skip to Main Content

Velsorg-raad vir Bruide – van ‘n Dermatoloog

Velsorg-raad Vir Bruide – Van ‘n Dermatoloog

Sekerlik een van ‘n bruid se grootste nagmerries sal wees om die oggend van haar troue met ‘n ken vol puisies wakker te word, of om haar foto’s na die troue deur te gaan en ‘n rooi uitslag op haar arm, droë vel vlokkies of groot porieë deur die grimering te sien. Enige dame wil natuurlik ‘n mooi vel hê te alle tye, maar op jou troue – wanneer so baie oë op jou is, en die lens van ‘n paar kameras op jou gefokus is wil jy veral op jou beste lyk. Die Ervare Bruid het met ‘n Dermatoloog gesels wat uit ‘n professionele perspektief, asook ‘n ervare bruid perspektief haar raad gee vir bruide om hul vel op hul beste te laat lyk op hul troudag – selfs op ‘n beperkte begroting.

Bepaal jòu vel se behoeftes

Die wonder van grimering moet nie onderskat word op jou troudag nie, maar ongelukkig kan grimering net soveel doen. Probleme met verkleuring van die vel, pigmentasie of selfs donker kringe onder jou oë kan maklik met ‘n goeie onderlaag verbloem word – maar probleme met die tekstuur van jou vel soos aknee merke, aktiewe aknee of ‘n baie droë of olierige vel en selfs fyn lyne kan deur grimering gesien word, of kan veroorsaak dat jou grimering nie so mooi egalig op die vel sit soos wat jy sou wou hê dit moet nie. Daardie probleme moet aangespreek word vòòr die troue en kan soms tyd vat om reg te kom. Daarom is dit belangrik om so lank as moontlik voor die troue alreeds jou vel-klagtes aan te spreek.

‘n Jaar voor jou troue (op die laatste 6 maande of dan so gou as moontlik) is die ideale tyd om ‘n afspraak met ‘n dermatoloog of jou dokter te maak en die velprobleme wat jy ondervind aan te spreek tydens ‘n vel-konsultasie. Jy hoef nie maandelikse Dermatologie of die duurste velprodukte te kan bekostig nie. Hul analise van jou vel sal jou lei om die velprodukte met die regte bestanddele te begin gebruik, en hulle kan jou help bepaal wat die onderliggende probleem is wat aangespreek moet word. Jy spreek dalk met jou velsorg die puisies en swartkoppies aan met ‘n anti-bakteriële salf, terwyl die eintlike onderliggende probleem ‘n tekort aan ‘n goeie afskilferings-produk (exfoliator) of iets hormonaal is. Baie mense wat sukkel met olierige vel, besef byvoorbeeld nie dat die oorsaak van die olieproduksie – ‘n tekort aan hidrasie van die vel is nie. Deur jou vel te laat analiseer deur ‘n kenner sal jy jou vel se unieke behoeftes leer ken. ‘n Dermatoloog kan vir jou bekostigbare produkte voorstel wat die regte bestanddele bevat en jou leer hoe om jou vel self te behandel wanneer probleme opduik.

Gee jou vel ‘n toetslopie-tydperk…

Onthou velprodukte is maar ook ‘trial-and-error‘. Aktiewe aknee kan dalk opgeklaar word met ‘n eenvoudige voorskrif-medikasie of salf, en kan soms veroorsaak word deur iets intern of die verkeerde velprodukte. Dit mag ‘n rukkie neem vir die nuwe behandeling om ‘n verskil te maak, en een produk mag dalk nie vir jou werk nie – dan probeer julle iets anders. Wees geduldig en gee jou vel kans om aan te pas, en gee die Dokter kans om deur ‘n proses van eliminasie te bepaal waarop jou vel die beste gaan reageer.

Spreek jou lewensstyl aan…

Al die gewone raad oor lewensstyl wat jou ma jou geleer het geld nou meer as ooit! Jou vel verklap verseker jou lewensstyl. Drink genoeg water (onthou ‘n ekstra glas water vir elke koppie koffie of glas wyn), kry genoeg slaap, as jy baie gestres is – spreek dit aan met oefening, selfsorg, terapie of bespreek dit met jou dokter. Eet natuurlik ook ‘n gebalanseerde dieet (lees ons blog post met raad van ‘n Dieetkundige oor die beste dieet-advies vir ‘n mooi vel, hare en naels). Dit neem ‘n rukkie vir lewensstyl-veranderinge om op jou vel gesien te word, so begin betyds hierdie veranderinge maak om te bepaal of jou lewensstyl tot jou probleem bydra. En onthou – los daardie puisies uit!

MOET NIE jou vel aan te veel son blootstel nie, en nooit sonder ‘n goeie sonblok nie. Die mooi bruin vel is nie die skade werd nie, en die alternatiewe – soos ‘n spray tan – sal net so goed werk. Indien jy aandring om natuurlik te verbuin vir die troue – begin lank voor die tyd, doen dit in kort tydjies (moenie ‘n uur in die son lê nie). Doen dit altyd met ‘n spf en hoe stadiger jy verbruin hoe beter om daardie rooi brand te voorkom. 

Bly getrou aan jou velsorg-roetine

Tussen 9 en 6 maande voor jou troue behoort jy, met die hulp van die kenners al ‘n velsorg-roetine vas te stel wat werk vir jou vel. Daarby saam is dit belangrik om hierdie roetine vol te hou. Indien jy nie Dermatologie tot jou beskikking het of kan bekostig nie – bepaal jou velsoort en kies jou gesig-produkte daarvolgens. Hier is ‘n Dermatoloog se algemene advies rondom die regte velprodukte vir jou velsoort kies:

Onthou – dit is moontlik om ‘n kombinasie van velsoorte te wees

Olierige vel:

Is dit jy? Jou vel voel en lyk olierig ‘n paar uur na ‘n was en jy sien gewoonlik as gevolg daarvan vergrootte porieë.

Velsorg: Indien jy olierige vel het is ‘n skuim (‘foaming‘) gesigwas spesifiek vir olierige vel met ‘n lae dosis Salisielsuur (Salicylic Acid) ideaal – veral indien jy geneig is tot witkoppies, swartkoppies of aknee. Salisielsuur beveg aknee sonder om die vel te veel uit te droog en werk ook as ‘n afskilferings-produk (exfoliator) wat die opbou van dooie selle op die vel verwyder sonder om die vel te beskadig. Jy kan ook ‘n aparte afskilferingsproduk gebruik – ‘n goeie produk vir ‘n vel met ‘n aknee-probleem, witkoppies of swartkoppies is ‘n ligte afskilferingsproduk wat BHA (Beta Hydroxy Acid) bevat. Die grootste fout wat mense met olierige velle maak, is om te dink hulle hoef nie ‘n vogroom te gebruik nie. Om vogroom oor te slaan veroorsaak dat jou vel oorkompenseer vir die verlies aan vog met nòg olie.

Kyk vir ‘n olie-vry en silikoon-vrye vogroom formules wat die volgende kern-bestanddele bevat:

Gliserien (glycerin) wat die vel bevogtig sonder om dit olierig te maak; Hialuroonsuur (Hyaloronic Acid) wat dien as ‘n ligte bevogtiger sonder om die porieë te verstop of verdere olie tot die vel te voeg. Vir ‘n SPF sonbeskermingsproduk kan jy een vind wat gekombineer is met jou dagroom – of kyk vir ‘n SPF wat olie-vry is sonder enige reukmiddels of parabens bygevoeg.

Vermy enige produkte met ‘n olierige basis, soos ‘shea butter‘ – en vermy ook afskilferingsprodukte (exfoliators) met ‘n growwe tekstuur wat die vel beskadig en olieproduksie stimuleer.

Droë vel en gedehidreerde vel:

Is dit jy? Dames in hul diep 20’s of vroeë 30’s mag dalk van die simptome van ‘n droë vel begin sien. Let wel daar is ‘n verskil tussen ‘n droë vel en ‘n gedehidreerde vel. ‘n Droë vel het te min olies, en lyk droog, voel effens grof en maak daardie kenmerkende los vel vlokkies – amper soos om te vervel. ‘n Gedehidreerde vel met ‘n tekort aan hidrasie voel styf en ongemaklik – selfs nadat jy gesigroom aangewend het, wys vinnig fyn lyne, en kan ook grof lyk en voel. Dis belangrik om te bepaal of jou vel droog of gedehidreer is – siende dat die behandeling verskil. ‘n Olierige of normale vel kan ook gedehidreer wees – so jy mag dalk hulp nodig hê om te bepaal watter een van die twee probleme op jou vel van toepassing is. ‘n Droë vel se probleem word oor die algemeen met velprodukte aangespreek, terwyl gedihidreerde vel behandel word van binne en buite en baie deur dieët en vloeistof-inname beïnvloed word. Gedehidreerde vel word vererger deur kafeïen en alkohol-inname en te min water drink.

Velsorg vir droë velle: Eerstens, wanneer jou vel droë vlokkies vorm is die versoeking groot om dit weg te wil skrop met growwe of chemiese afskilferingsprodukte (exfoliators) – maar wat jou vel nodig het is hidrasie.

Bly weg van gesigwas wat skuim (foaming cleansers) en kyk uit vir ‘n gesigwas wat nie enige ‘harde’ (harsh) bestanddele soos alkohol bevat nie. Kyk ook uit vir die woorde ‘gentle‘ en ‘hydrating‘ wanneer jy soek vir ‘n nuwe gesigwas en fokus op produkte met so min as moontlik bymiddels soos reukmiddels in het wat die vel kan irriteer en verder uitdroog. Die bestanddeel Hialuroonsuur (Hyaloronic Acid) is ‘n wonderlike bestanddeel in ‘n gesigwas vir iemand met droë vel. Vir ‘n weeklikse afskilferingsproduk – kyk vir iets met AHA (Alpha Hydroxy Acidwat die vel motiveer om vog te behou. 

Gesigroom en serums hang af van die seisoen en klimaat. In die warm maande en ‘n klimaat met hoër humiditeit kan jou vel dalk met tye wel olierig raak, maar steeds gedehidreer wees. In so geval kan jy ‘n ligte jel-basis gesigroom met Hialuroonsuur probeer as dagroom wat die vel hidreer sonder om dit olierig te laat voel. In droë klimate en in die winter kan jy iets met ‘n effense olie-basis probeer as jou vel baie droog is.

Kombinasie vel:

Is dit jy? Jou vel is olierig of sensitief in sommige areas, soos die ken, neus of voorkop, maar droog in ander areas soos die wange en in die haarlyn.

Velsorg: ‘n Ligte room-basis gesigwas werk goed vir diè veltipe omdat dit nie uitdroog nie, en ook nie olierig is nie. Na jou gesig gewas is mag jou vel dalk nou droog en styf voel in sommige areas, en dalk selfs effens olierig in ander. ‘n Alkohol en reukmiddel-vrye toner en grimeerverwyderaar wat die pH van jou vel weer balanseer soos hierdie Aloe Vera Toner is ideaal vir kombinasie velle. Indien jy wel ‘n serum wil/kan gebruik, kyk uit vir ‘n Retinol serum. Retinol werk goed vir die hidrasie van droë vel en stimulasie van kollageen, maar voorkom ook die verstopping van porieë en help met aknee. Dit is dus ‘n goeie kombinasie bestanddeel. Indien jy ‘n Retinol produk gebruik is dit belangrik om ‘n goeie, olie-vrye SPF aan te wend aangesien dit die vel sensitiewer maak vir sonskade.

Met gesigroom is die geheim weereens balans. Jy wil iets hê wat hidreer sonder om tè swaar bestanddele op jou vel te sit. Kyk vir iets lig, sonder ‘n olie-basis wat steeds gemik is op hidrasie. Wanneer jy ‘n nagroom aanwend – sorg dat jy die areas van jou vel wat baie droog is genoeg hidrasie gee, maar moenie jou olieriger areas heeltemal mis nie. ‘n Baie olierige vel wat nie hidrasie ontvang nie – vervaardig nòg olie. ‘n Klei gesigmasker spesifiek vir die areas van jou vel wat olierig is kan so nou-en-dan help om swartkoppies en verstopte porieë te behandel.

Die beste afskilferingsproduk (exfoliator) vir kombinasie vel hang af van die kondisie van jou vel en wat die oorweldigende simptoom is. Indien jy nie veel oorweldigende aknee of olierigheid het nie, maar meer droë vel probleme – maak gebruik van ‘n produk met AHA (Alpha Hydroxy Acid). Hierdie bestanddeel help baie om droë vel te hidreer en help ook om dooie selle te verwyder en vir hiperpigmentasie. Indien jy ‘n aknee-probleem, witkoppies of swartkoppies het, of oorweldigende olie-produksie het – probeer BHA (Beta Hydroxy Acid). Waar AHA aan watermolekules klou en jou vel hidreer, fokus BHA weer op olie, en het die vermoë om dieper in die porieë te penetreer en die sebum en dooie vel-selle wat porieë verstop en aknee en swartkoppies veroorsaak te verwyder. BHA het ook anti-bakteriële eienskappe en verwyder ook dooie vel van die oppervlak van die vel om jou baba-vel terug te besorg.

Indien jy nie kan kies tussen die twee nie, of as beide droë en olierige/aknee vel jou pla – wissel af tussen die twee.

Sensitiewe vel:

Is dit jy? Sensitiewe vel word gewoonlik geidentifiseer deur ‘flare-ups‘ van rooi, jeukerige, branderige, geïriteerde vel-areas in reaksie op sekere chemikalieë in gesigprodukte of eksterne faktore soos koue weer; duidelik sigbare kappilêre are rondom die neus; sonsensitiewe vel en kondisies soos ekseem en Rosacea (terugkerende rooi uitslag).

Die beste behandeling vir sensitiewe vel is om so min as moontlike onnodige byprodukte in jou velprodukte te hê, soos reukmiddels – en vermy ook harde chemikalieë soos alkohol. As jy byvoorbeeld ‘n droë vel of olierige vel het wat ook sensitief is – gebruik produkte vir droë vel of olierige vel met so min as moontlik ‘ekstra’ bestanddele. Hier moet jy ook deur toetslopies vind wat vir jou wel werk – en maak gerus gebruik van produkte wat spesifiek vir sensitiewe vel ontwikkel is. Toets nuwe produkte op ‘n sagte area van jou vel wat mens nie sien nie, en wag 24 uur om te sien of jou vel wel reaksie toon – voordat jy dit aan jou gesig wend. Jy moet natuurlik spesifieke kondisies soos ekseem met die regte medikasie of salf behandel om dit onder beheer te kry indien dit wel sy verskyning maak.

Mense met sensitiewe vel moet ook pasop vir sterk produkte algemeen gebruik vir aknee-behandeling soos Salisielsuur (Salicylic Acid) en Benzoyl Peroxide siende dat dit die vel kan brand of irriteer. Probeer dalk meer natuurlike produkte soos Tea Tree of Witch Hazel. Indien jou vel geirriteerd, geswel of rooi is as gevolg van koue weer, wind of enige eksterne faktore kan jy kyk vir velprodukte wat die vel kalmeer met anti-inflammatoriese eienskappe soos MSM, Chamomile en Aloe Vera. Sensitiewe vel vereis ook dat jy streng is met SPF aanwending.

Normale vel:

‘n Normale vel het ‘n goeie balans van olies en ‘n normale tekstuur met normale grootte porieë en het nie enige langstaande klagtes soos die bogenoemde velsoorte nie. Dis glad nie moeilik om vir ‘n normale vel ‘n goeie velreeks te vind nie – dit word grootliks bepaal deur jou lewensstyl en die klimaat. Jy het nie nodig om sterk chemikaliee op jou vel te gebruik nie – want dit is nie nodig om ‘n probleem aan te spreek wat nie bestaan nie. Kyk dus vir produkte met so min as moontlik onnodige bygevoegde bestanddele en wat natuurlik is. ‘n Goeie reiniger en vogroom vir ‘n normale vel met ‘n weeklikse chemiese afskilferingsproduk om dooie velle te verwyder is genoegsaam. Jy wil die goeie kondisie waarin jou vel is bewaar – so onthou ‘n goeie spf.

Begin maandelikse behandelings

Shot of an attractive young woman getting a facial at a beauty spa

9 tot 6 Maande voor jou troudag is ‘n goeie tyd om professionele behandelings soos ‘n facial, chemical peel of selfs micro-needling deel van jou velsorg-roetine te maak, afhangende van jou vel se behoeftes en begroting. Gewone velsorg produkte behandel gewoonlik die boonste laag van die vel – indien jou probleem dieper lê is die regte maandelikse professionele behandeling vir jou vel deur ‘n somatoloog of opgeleide skoonheidsterapeut dalk wat jou vel nodig het om jou probleme aan te spreek en die ontwikkeling van enige probleme te voorkom. Dit natuurlik tesame met die nodige medikasie soos voorgeskryf deur jou Dermatoloog of Mediese Dokter. Daarby help die behandelings ook dat jou vel daardie ‘bridal’ glans het wat ons almal na smag.

‘n Mens se vel regenereer ongeveer elke 4 weke, so vir beste resultate wil jy hierdie tipe behandelings maandeliks herhaal – afhangende van die behandeling natuurlik. Onthou om met jou skoonheidsterapeut te gesels oor hoe lank voor die troue jou laaste behandeling moet plaasvind vir beste resultate – siende dat sommige behandelinge ‘n reaksie veroorsaak wat so 24h kan neem om te herstel.

Dis belangrik om ‘n verhouding te bou met ‘n velspesialis waarmee jy gemaklik voel en vertrou. Bespreek ook met hulle jou nood-opsies vir troudag puisies. ‘n Verrassings-puisie die dag voor jou troue kan binne ure opgeklaar word met ‘n steroiëd inspuiting of laser behandeling, so om jou velspesialis op ‘standby’ te hê en ‘n vertrouensverhouding met hom/haar te hê mag dalk ‘n goeie idee wees.

Jou velsorg-roetine is nou vasgestel en stabiel. In die tydperk is die fokus op die vel beskerm teen sonskade of drastiese verandering. Hou jou lewensstyl stabiel met genoeg slaap, water en oefening. Hou vol jou skoonheidsroetine en dink aan jou vel wanneer jy heeldag in die son by ‘n bierfees gaan sit deur ‘n modieuse hoed te dra en sonroom aan te wend. Maak seker jou dieet bevat ‘n goeie hoeveelheid vitamine C, D, E en K en maak seker jy neem genoeg omega olies in deur jou dieet. 

Indien jy jou wenkbroue wou microblade of gaan vir laserbehandeling om hare in jou gesig te verwyder is dit nou op die laatste die tyd om dit te doen sodat jou vel genoegsaam tyd het om te herstel.

Sowat ‘n maand voor die troue – kyk na salonne wat spray tan doen en gaan vir ‘n toetslopie om seker te maak jy is tevrede en lyk nie vir jouself oranje nie. Sodra jy ‘n salon gevind het waarmee jy tevrede is – bespreek jou laaste aanwending vir 2 dae voor die troue.

Die laaste twee weke voor die troue – kyk vir ‘n afskilferingsproduk vir jou liggaam of jy kan jouself selfs bederf met so ‘n spa-behandeling sodat jou vel van kop tot tone gereed is. 

Indien jy enigsins dit kan vermy – moenie die laaste week voor jou troue grimering dra nie. Dis een manier om ‘n verrassings-puisie te vermy. Hou jou lippe sag en glansend sonder dooie velle deur ‘n ligte lip scrub aan te wend so 2 maal ‘n week en wend dan ‘n lipsalf met spf aan. 

Al wat jy nou verder kan doen is jouself geniet, enige verrassings hanteer soos hulle opduik en natuurlik glimlag – want dis jòu dag!

Back To Top