skip to Main Content

Goue raad vir elke bruid voor haar troubeplanningsreis begin

Goue Raad Vir Elke Bruid Voor Haar Troubeplanningsreis Begin

Die nuwe jaar bring weer ‘n string nuwe lesers met nuwe sprankelende ringe – en oë – op soek na idees, riglyne of dalk net bietjie inspirasie. Ek het lank gaan sit en dink oor die stukkies goue raad wat ek graag sou wou hê enige nuwe bruid moet weet en doen voor hulle enige raad in ons boek of blog volg. Wat is die eerste stappe wat jy moet neem voordat jy jouself verloor in blomme-rangskikkings en ons troubeplannings-eBoek (wink-wink)?…

Troubeplanning is soos ‘n rollercoaster rit (tensy dit vreesaanjaend vir jou is of jou siek maak – maar bear with me). Daardie eerste duik wat die karretjie neem is die grootste thrill, en die lekkerkry is amper te veel. Dan kom daar ‘n paar opdraendes – gelukkig lei hulle weer tot lekker afdraendes. Soms gaan jy onderstebo gegooi word – maar alles kom weer reg. Skielik kom alles tot stilstand en julle is getroud – die rit het verby gevlieg binne (wat voel soos) sekondes. Die thrill is verby – en dan besef jy julle het al julle tyd en energie spandeer op die beplanning en antisipasie van die wonderlike dag wat nou verby is, en nou moet julle ‘n nuwe, stadiger, belangriker rit aanpak – die huwelik.

Die eerste en belangrikste stap is huweliksvoorbereiding…

Dis belangrik dat julle gedurende die tyd wat julle verloof is ook beplan en bou aan julle huwelik. Die huwelik is ‘n ongelooflike groot verbintenis wat ook groot voorbereiding vereis. Jy sou nie ‘n R15 miljoen besigheid aankoop sonder om verskeie kenners in die veld te raadpleeg nie. Waarom dan nie ‘n lewenslange verbintenis aanpak deur eers die kenners te nader nie? Julle kan huweliksvoorbereidings klasse of seminare bywoon, of as julle gedruk is vir tyd ‘n aanlyn kursus volg of saam deur ‘n boek werk. Of julle kan die raad van suksesvolle huwelike rondom julle raadpleeg. Gaan gesels met hulle en vra vir hulle wat hulle sou voorstel as goeie voorbereiding vir die huwelik. Leer mekaar goed ken, en spandeer tyd saam soveel as moontlik sonder te veel praatjies oor troue beplan.

Ontspan soms….

Terwyl jy jou tyd verdeel en vir jou verloofde ‘n goeie chunk daarvan gee – neem ook tyd vir jouself om te onstpan gedurende die tyd. Geestes-gesondheid is belangrik, en iets wat mens maklik afskeep in ‘n besige skedule. Dit hoef nie alleen te wees nie, jy ken jouself mos. Ekstroverte verkry hul energie van die mense rondom hulle – so indien dit jy is – omring jouself met positiewe, opbouende mense wat jou ondersteun en liefhet. Indien jy jou energie vanuit alleen-tye verkry – spandeer tyd alleen en beoefen ‘n nuwe stokperdjie, lees ‘n goeie boek of vind ‘n sport wat jy geniet en kry oefening in.

Wat ook al jy kies om te doen – die doel hiervan is om te voorkom dat die stres van troue beplan jou oorheers in die jaar. Dit moenie jou lewe oorneem nie. Daarby gesê – as jy byvoorbeeld baie kreatief is en jy put baie genot en ontspanning uit die kreatiewe aspek van die troue beplan, dan kan jy natuurlik jou af tye daaraan spandeer. Los net in jou onstpan tyd die aspekte uit wat vir jou dalk spanning veroorsaak, soos moeilike diensverskaffers, begrotings en die gastelys.

Beplan jou tyd wys…

Allokeer vir jouself rondom jou skedule ‘n tyd van die dag so een of twee keer ‘n week, ‘n uur ‘n dag, elke tweede naweek of een volle week ‘n maand (nes jy verkies) wat jy jou volle aandag aan troue beplan gee*. Werk ons boek deur, antwoord en stuur eposte en maak afsprake, fynkam Pinterest en doen navorsing oor diensverskaffers – doen wat jy moet doen. Wanneer jy weet jy het tyd uiteen gesit vir troubeplanning, sal dit enige angstigheid rondom take wat vir jou wag bietjie demp.

*Hierdie manier van tyd beplan word genoem ‘chunking’ – dis iets wat ek self toepas en dit voorkom dat jou besige skedule jou baie dun smeer en multitasking jou uitput – gaan lees gerus op daaroor.

Werk aan jou gesondheid…

Hierdie val in by die bogenoemde raad oor tyd vir jouself neem – maar hier verwys ek spesifiek na liggaamlike gesondheid.

Die eerste en belangrikste ding wat jy moet doen so lank as moontlik voor die troue, indien jy nog nie het nie, is om jou voorbehoedmiddel opsies met jou dokter te bespreek en die een kies wat die beste vir jou werk. Dit neem mens se liggaam ‘n rukkie om gewoond te raak daaraan, en hormoon-middels kan die eerste paar maande dalk velprobleme of naarheid veroorsaak. Jy wil dit dus vroeg afhandel sodat jou liggaam dit teen die troue gewoond is en jy nie met newe-effekte sukkel nie.

Tweedens – oefening, velsorg en dieët. So lank as moontlik voor die troue wil jy ‘n roetine wat vir jou werk vasstel en daarby hou. Raadpleeg die kenners indien jy geen idee het waar om te begin nie. Dis nooit ‘n goeie idee om kort voor die troue nuwe velsorg produkte te probeer of ‘n drastiese dieetverandering aan te bring nie. Lees hier wat Pretorianer en dieetkundige Carla Gerryts sê oor hoe dieet die voorkoms van jou hare en vel kan beïnvloed. Probeer jou oefen-roetine, liggaamsgewig, velsorg-roetine, en dieet op ‘n gesonde plek kry so lank as moontlik voor die troue sodat jy reeds op die troudag ‘n gesonde roetine wat gewoonte is vasgestel het. Let daarop dat gesonde naels en vinnge haargroei ook grootendeels afhang van die dieet wat jy volg. En onthou dat realistiese doelwitte, veral aangaande gewigsverlies, ook onnodige spanning gaan voorkom.

Kyk eers die kat uit die boom…

In my eboek het ek ‘n een jaar tydlyn voorgestel, ‘n logiese vogorde waarin jy jou troubeplanningstappe kan doen om te voorkom dat jy stappe mis of ongekoördineerde besluite neem wat later nie mooi inmekaar vloei nie. Ek sê wel in die boek dat stappe altyd eerder te vroeg as te laat kan gebeur. Maar daar is ook iets soos TE vroeg vir sekere dinge…

Dit hang af van jou persoonlikheid, en van bruid-tot-bruid – maar ek het al verskeie forums gesien waar bruide kla oor hoe hulle lank voor die troue reeds hul rok gekoop het, of ‘n vreeslike duur diensverskaffer gekies het wat op die ou end amper hul begroting omvêr gegooi het of groot spyt veroorsaak het. Oorhaastige besluite in die opwinding van ‘n nuwe verlowing kan die beste besluite wees, en soms ook lei tot spyt. Is jy iemand wat geneig is om in die ingewing van die oomblik oorhaastige besluite te neem? Indien ja – gaan sit en beplan of dink eers oor die volgende:

  • Stel eers ‘n begroting op (gebruik ons gratis begroting as riglyn). Begroting sluit nie net in die kies van ‘n bedrag volgens wat julle beskikbaar het nie. Doen moeite hiermee – beplan watter dienste julle wil gebruik, watter tipe venue julle ingedagte het en doen navorsing oor wat die dienste julle gaan kos. Doen ook navorsing oor idees vir goedkoper alternatiewe. Nie seker hoe om begroting saam te stel nie? Lees ons blog post daaroor hier.
  • Voordat jy jou rok kies en koop – vra jouself af – het ek alreeds die liggaamsvorm wat ek wil hê wanneer ek trou, of maak ek staat op gewigsverlies of toename in spiermassa om in die rok te pas? Of maak ek dalk staat op sekere verstellings aan die rok? Indien ja – wag eers en verloor die gewig of oefen en bou daardie spiere wat jy van plan is om te bou, en vind uit by die persoon wat dit gaan doen of die verstellings prakties moontlik is. Soms wil materiaal nie aangepas word nie en dit verander die voorkoms van die rok.
  • Is dit die rok wat jy nog altyd ingedagte gehad het, of settle jy enigsins in die vrees dat jy nie iets beter of meer bekostigbaar gaan kry nie? Indien ja, het jy alle moontlike opsies nagegaan? Tweede-handse rokke, bekostigbare aanlyn-winkels met goeie reputasies (soos butterfly dresses) of dalk minder bekende rokmakers, wat gelykstaande is in vaardigheid (email my, of inbox my op Instagram of facebook vir name)? Moenie jou rok haastig kies nie, en indien jy koop – vat iemand saam (dalk jou ma) wat jou baie goed ken en 100% eerlik is met jou. Vertrou hulle.
  • Voordat jy enige diensverskaffers kies – maak dood seker jy het goed navosing oor hulle gedoen. Moenie net gaan op wat hul adverteer op facebook en hul webwerf nie. Vra die opinies van bruide. Vra fotograwe wat weekliks in die industrie werk met bruide wat die dienste gebruik wie ‘n goeie reputasie het en wie hulle sou voorstel.
  • Pasop vir die nuutste modes. Die nuutste troumodes kan amazing wees, en as trou-blogger is ek self gaande daaroor om die foto’s deur te kyk. Maar voordat jy die modes volg- kies eers vir jou troue ‘n tema/kleurskema en estetiek wat getrou aan julle is. Watter vibe wil jy hê moet jou troue oorheers? Rustic, groen en natuurlik was 2017 se groot mode, en toe skielik was 2018 alles oor pers, moderne city-chic met ‘n dark & moody of neonkleurige vibe en perspex oral.  As jy al hierdie saam gooi is dit hit or miss. Die kombinasies van modegiere kan werk, of net baie deurmekaar lyk. Lees ons blog post oor hoe om die perfekte kleurskema te kies vir riglyne.
  • Deur eers jou vibe te beplan, kan jy maklik enige nuwe giere eers toets aan jou tema en bepaal of dit werklik dit sal komplimenteer of nie. Alles moet mooi uiteenlopend lyk en nie ‘n deurmekaarspul van nuwe modes wees nie. Jou troue moet eerder tydloos wees, as ‘n modegier troue.

Noudat ek genoeg vir jou gepreek het oor goeie dieet, tydsbeplanning en selfbeheersing – last but not least – geniet dit bruidjies! Dis ‘n wonderlike tyd in jou lewe, probeer om selfs die moeiliker of stresvolle aspekte te geniet en moet nooit perspektief verloor van waaroor die hele proses gaan nie..

Lekker beplan, en onthou die Ervare Bruid is hier om te help en ondersteun – kontak my enige tyd!

xoxo

Back To Top