skip to Main Content

Laat sò die venue wat jy kan bekostig vir jou werk

Laat Sò Die Venue Wat Jy Kan Bekostig Vir Jou Werk

Die droom trou-venue… ons almal het een van daardie! My droom trou-venue was ‘n bergtop in Santorini wat oor die eiland uitkyk. Maar ongelukkig moet ons soms om praktiese redes en begrotings wat knyp eerder ‘n venue kies wat beter by ons planne inpas. Wat as die venues wat jy wel kan bekostig, en wat by jou planne inval almal iets het wat jy nie mal is oor nie, of sou wou verander? Hier is ‘n paar oplossings vir algemene probleme met venues, sodat jy die venue wat jy kan bekostig, kan omskep in jou droom venue…

1. Die Venue se Kapel is nie groot genoeg nie of ek hou nie daarvan nie

Of die kapel te klein, te donker, of net glad nie jou styl is nie… Jy hoef nie die venue se kapel te gebruik nie. Hoor by die venue of daar ‘n stukkie gras êrens is waar julle die seremonie kan hou. Of hou die seremonie by ‘n geskikte plek in die omgewing met ‘n mooi grasperk, en die onthaal by die venue. So kan jy self bepaal hoeveel mense gemaklik kan sit. Dit kan baie mooi lyk, en steeds eenvoudig gehou word… Ek was onlangs by ‘n troue waar die seremonie op die grasperk reg langs die onthaal saal plaasgevind het, en hoe mooi was dit nie!

Foto: Liz-Mari Marais Photography

2. Ek hou nie van die venue se tafels en stoele nie…

Bruide wat my eboek gelees het sal weet dat ek altyd voorstel jy kyk na ‘n venue se tafels en stoele voordat jy die venue kies of op ‘n tema/styl besluit. Maar as dit die enigste probleem met die venue is, en andersins is hy perfek is hierdie probleem nie onoorkombaar nie.

As dit buite die kwessie is om mooier stoele te huur, ooweeg dalk om eenvoudige plastiek stoele te huur wat baie goedkoper is, en bind lint om die stoele. Sodoende sal die stoele steeds netjies lyk en nie inmeng met die troue se tema nie. Die ander oplossing is om goekoop plastiek stoele te koop deur die loop van die jaar, en te verf in die kleur wat jy dit wil hê. Na afloop van die troue kan jy dit aan die venue, of ‘n bruid of ander besigheid verkoop. Die laaste moontlikheid is as jy iemand ken wat goed naadwerk doen wat vir jou teen ‘n goeie prys stoeloortreksels kan maak.

As die tema ‘n baie rustic tema is, kan jy ook oorweeg om ‘n verskeidenheid stoele wat nie bymekaar pas nie bymekaar te maak tussen vriende en familie… stoele wat nie pas bymekaar nie kan baie mooi lyk, mits dit pas by jou troue se estetiek. Onthou julle kan die stoele wat vir die seremonie gebruik word na die tyd in die saal inskuif, dan hoef julle nie dubbel die hoeveelheid stoele te hê nie.

As dit kom by tafels kan julle natuurlik tafeldoeke gebruik, maar as julle idee was om kaal tafels te gebruik, en die venue se tafels sal net nie deug nie kan julle eerstens met die venue gesels en hoor of hulle nie weet van iemand wat goedkoper aan hulle uitverhuur nie. Ons venue het byvoorbeeld iemand gehad wat reg langsaan besigheid bedryf, en hulle het die tafels aan ons verhuur teen ‘n billike prys, sonder afleweringskostes. Indien dit nie ‘n opsie is nie, wat van julle eie tafels maak? Dis baie harde werk en gaan tog geld kos, maar julle kan een hou as ‘n eetkamer tafel in julle huis na die tyd, en die res verkoop.

3. Die venue het nie mooi plekke vir foto’s neem nie…

‘n Kreatiewe fotograaf sal vir jou sê, met die blote oog lyk iets dalk soos ‘n snaakse plek vir foto’s – maar die foto’s word geneem om julle dag te dokumenteer en jy en manlief is die fokus van daardie foto’s. Vreemde plekkies vir foto’s neem maak soms die mooiste foto’s. Daarby gesê, dit is altyd ‘n opsie om so 10/15 min êrens heen te ry om ‘n oop stuk veld of afgeleë gebou te benut. As jy baie bekommerd is hieroor, gaan ry saam met jou fotograaf na die venue en laat hy/sy oordeel of dit geskik is vir foto’s neem of nie.

4. Daar is ‘n muur wat ‘n vreemde kleur is en glad nie by ons troue pas nie…

Siende dat jy nie die venue se mure namens hulle kan verf nie, het jy een van twee envoudige opsies – of jy laat maak ‘n backdrop, of gebruik drapering om die muur toe te maak. Die alewig handige Pinterest het verskeie idees vir hoe om op kreatiewe maniere ‘n muur mooi te maak. As die kleur nie soseer ‘n probleem is nie, maar die muur lyk net nie mooi vir jou nie kan jy iets doen soos fairy lights, om die ‘lelik’ van die muur te verbloem. Maak jou photobooth sommer by diè muur, en maak sommer die backdrop geskik daarvoor – twee vlieë met een klap.

5. Die venue se dak pla my…

Dit is eintlik baie maklik om op ‘n goedkoop manier die dak te bedek. As draperings of fairy lights nie by jou styl of begroting pas nie, begroot die tyd in die maak van papier hangsels. Dit neem verskriklik lank om te maak, op te hang en af te haal – maar dit sal die trick doen.

As begroting nie ‘n probleem is nie, het jy verskeie opsies van blomme, takke en lampe, of verskeie style drapering.

6. Daar is klomp leë spasies wat dekor benodig:

Ekstra hoekies waarin mense rustig kan sit en gesels word altyd benut by ‘n troue. Gebruik hooi bale of ‘n ou rusbank bedek met ‘n paar mooi kussings. Nog ‘n opsie is ‘n tafeltjie met foto’s van oorlede familielede, ter nagedagtenis wat ‘n mooi gebaar is vir die oorblywende familielede wat hul graag deel sou wou hê van die dag. Moet ook nie voel elke hoekie en gaatjie hoef baie dekor te bevat nie. ‘n klein tafeltjie met ‘n ruiker op sal ook deug as jy net ietsie daar wil sit. Verlowingsfoto’s is ook ‘n maklike manier om ‘n area mooi te maak.

Onthou ook dat die dekor wat vir die seremonie gebruik is, gou geskuif kan word na die onthaal area, sodoende hoef jy nie nog ekstra dekor te voorsien nie.

 

Min venues sal 100% wees wat jy in jou droomwêrelde opgetower het, veral nie as die realiteit van begroting inskop nie. Maar jy kan een vind wat naby genoeg aan perfek is, en hom mààk werk.

Lekker beplan bruidjies!

xoxo

Back To Top