skip to Main Content

Bruid bykomstighede: Wenke om die perfekte uitrusting saam te stel

Bruid Bykomstighede: Wenke Om Die Perfekte Uitrusting Saam Te Stel
Post Series: Bruid bykomstighede

Ek het my rok, en ek het ‘n sluier – wat nou? Daar is soveel keuses om te maak, armbandjies, oorbelle, skoene, tiara, haarknippe.. ons het die kenners geraadpleeg sodat jy die perfekte balans kan vind tussen jou eie unieke styl, wat steeds tydloos is. Voordat jy verder bykomstighede kies, oorweeg dus die volgende stukkies goue raad…

Indien jy dit gemis het – lees ons blog post oor hoe om die perfekte sluier te kies.

Kies die ‘held’ van jou uitrusting:

Nadat jy ‘n sluier (of die afwesigheid daarvan) gekies het, besluit wat die fokuspunt of punte van jou uitrusting gaan wees. ‘n Baie dramatiese sluier sal natuurlik ook ‘n groot fokuspunt wees en dadelik die oog vang. Wat is jou gunsteling gesigs-kenmerke? Is daar dalk ‘n gedeelte van jou liggaam waarop die rok klem lê, soos ‘n oop rug, ‘n hoë slit wat jou bene beklemtoon? Gaan jou haarstyl iets eenvoudig wees, of wil jy dalk jou mooi dik, lang hare beklemtoon in ‘n oogvang-haarstyl? Gaan jy unieke skoene of ‘n groot tiara of blomkroon dra? Mooi oorbelle? Rooi lippe? Al hierdie dinge gaan bepaal hoe jy jou haarstyl, grimering en die res van jou bykomstighede gaan kies…

Besluit op een of twee dinge wat jy wil hê moet dadelik die oog vang, en hou alles anders dan bietjie eenvoudiger – sien die res van jou bykomstighede as ‘supporting acts‘ wat nie die hoofkarakter se rol oorneem nie, maar eerder ondersteun. Dit hoef nie noodwendig die rok te wees nie, en jy kan jou natuurlike skoonheid die hoofkarakter maak en die hele uitrusting eenvoudig hou.

Oordoen lyk goed in tydskrifte, en op die modeplanke – maar kan jy jouself indink met sò baie juwele op jou troudag? As jy kan, en dis jou styl – dan is dit perfek vir jou want dis hoe almal jou ken en jy voel gemaklik. Maar indien nie, gaan dit net jou uitrusting totaal en al deurmekaar laat lyk…

Hier is ‘n paar opsies vir jou uitrusting se hoofkarakter:

  1. Eenvoud laat die bruid uitstaan:

Daar is iets aan ‘n bruid, en die suiwer vreugde wat alreeds mooi is. As jy ‘n baie eenvoudige rok het – en jy wil die hele uitrusting van kop tot tone eenvoudig hou en die eenvoud juis die uitstaan-element maak (aka Meghan Markle) sal dit outomaties klem op jòu lê – ‘n eenvoudige wit rok gaan steeds uitstaan bo al die gaste – en nee, dis nie te min nie – jy mag dit baie eenvoudig hou. Die bruid dra immers die rok – nie anders om nie. Dis ‘n klassieke voorkoms wat verseker nooit uit styl sal gaan nie.

Wanneer kies jy die styl?

Dood eenvoudig as dit is wie jy is, en dit is wat die beste gaan werk by julle en jul venue. Jy wil steeds op jou troudag jouself wees – net op jou mooiste. As jy hierdie styl kies – moenie jou strooimeisies tè formeel aantrek nie – of kies vir hulle rokke in sagte kleure met natuurlike grimering en minimalistiese bykomstighede, hulle moet jou komplimenteer sonder om jou te oorskadu. Hou dan ook by ‘n klassieke pak vir manlief.

2. Jou rok en sluier as die held van die uitrusting:

As jou rok en/of jou sluier ‘n unieke kleur is, bedek is met kristalle, ‘n kleur belt het, ‘n baie lae neklyn of mou-detail het, ‘n baie lang, dramatiese trein of enige ander details het wat dadelik die oog vang – is dit dalk outomaties jou fokuspunt. Jy kan dan jou hare, grimering en bykomstighede relatief eenvoudig hou, of so kies dat dit nie fokus van jou rok weg steel nie. In so geval is jou rok en/of jou sluier die held van die uitrusting…

Wanneer kies jy die styl?

As julle ‘n meer informele tema of venue het, maar jy wil nie ‘n tè eenvoudige uitrusting hê nie. Gaan dan vir die wow-faktor rok of sluier, maar hou die res van jou bykomstighede en jou grimering redelik eenvoudig.

In so geval kan jy vir jou strooimeisies ook iets wow kies soos mooi oorbelle, blomkrone of ietsie blink op hul rok. Nie tè veel nie, maar net sò dat daar ‘n balans tussen jou en hulle is. Manlief sal steeds handsome lyk in ‘n klassiese pak – maar jy kan iets uniek soos ‘n helder das, hoed of iets uniek bylas.

Foto: Anandi Photography

 

3. Balancing act:

So TE eenvoudig is net nie jou styl nie… Tensy over-the-top 100% jou vibe is (in so geval doen dit!), wil jy voorkom om oordoen te lyk en die geheim daarvan is dat jy nie hoef uitstaan grimering, hare, juwele, blomkrans, skoene en ‘n Swarovski kristal bedekte rok te hê nie. Dis tempting om vir jou troudag die beste en besonderste items van alles te wil hê, maar wat is die held van die uitrusting as alles so uitstaan?

Hou jou hare byvoorbeeld eenvoudig met ‘n asemrowende rok en mooi oorbelle; of hou die rok eenvoudig en hê dramatiese grimering, hare en skoene en dalk ook ‘n unieke ruiker of tiara…Dis ‘n balancing act… vind die balans tussen jou subtiele mooi elemente en jou showstopper elemente… Jy kan selfs een of twee unieke elemente bylas – ‘n satyn lint om die nek, kreatiewe oorbelle, helder-kleurige skoene of enige iets kreatief of buitengewoon wat die uitrusting bietjie karakter en ‘n unieke element gee. As jy dalk ‘n tattoo het wat jy nie wil wegsteek nie kan jy dit ook by jou uitrusting inkorporeer – hou die bykomstighede daar rondom dan eenvoudig.

Die seisoen en tipe venue sal natuurlik ook jou keuses affekteer – ‘n mooi baadjie in die winter, en ‘n haarstyl in die somer vir ‘n buite-troue wat die hare uit jou nek hou.

Gebruik hierdie maatstaf: elke keer wat jy ‘n element wil bylas – vra jouself af: trek dit die aandag effens weg van my uitstaan element? En indien wel, wil ek hê dit moet?

Hier is ‘n paar voorbeelde van bruide wat meer as een uitstaan-element in hul uitrustings het en ‘n balans gevind het, of iets uniek gedoen het…

 

 

As jy die groot introvert in julle verhouding is, maar jou bruidegom het ‘n vrolike of unieke styl – hou ingedagte dat julle twee saam ook ‘n prentjie vorm. Jy kan vir hom iets uniek gee om aan te trek as jy nie wil nie – saam is julle dan uniek en vrolik sonder dat jy en jou uitrusting konstant die middelput van aandag is.

Jy hoef nie elke boksie af te merk nie…

Oorbelle – Hangertjie – Ringe – Armbandjies -Tiara – Haarknip – jy hoef nie elke gedeelte van die liggaam waarvoor mens juwele kan kry daarmee te bedek nie. Dis ook totaal en al aanvaarbaar om nie haakskoene te wil dra nie. Wanneer jy twyfel is minder altyd beter, jy moet steeds gemaklik en soos jouself voel. Soms raak mens so vasgevang in die idee dat elke element wat jy kies mooi foto’s moet maak – maar dit hoef nie.

In die volgende blog posts in hierdie reeks sal ons op spesifieke elemente van die finale prentjie fokus – insluitend haarstyle, skoene, juwele ens. Moet dit nie misloop nie – deur in te teken op ons blog!

Lekker beplan bruidjies!

xoxo

Back To Top