skip to Main Content

Bruid bykomstighede: Kies sò die regte sluier

Bruid Bykomstighede: Kies Sò Die Regte Sluier
Post Series: Bruid bykomstighede

So, jy het jou droom trourok… maar jou keuses is ver van klaar! Jy het nog ‘n magdom keuses om te maak om die perfekte uitrusting aanmekaar te sit, letterlik van kroontjie tot toontjie. Ons reeks oor bruid bykomstighede begin met die eerste keuse wat jy moet maak voordat jy verdere bykomstighede kies – jou sluier.

Jou verdere keuses van skoene, juwele, en selfs jou grimering en haarstyl gaan grotendeels afhang van jou keuse om ‘n sluier te dra – of dan nie – en die styl daarvan. Die regte sluier rond die uitrusting en die rok af, en skep daardie ‘wow-hier-kom-die-bruid‘ oomblik. Dit kan ook help om jou gesigvorm en liggaamstipe te vlei. Wil jy ‘n dramatiese lang,  sluier dra, medium lengte of ‘n kort ‘birdcage‘ styl sluier wat slegs jou gesig bedek? Of dalk iets met ‘n unieke kleur, patroon of styl? is jy steeds onseker oor jou sluier of benodig jy ‘n paar riglyne? Lees dan verder!

Oorweeg die volgende wanneer jy jou sluier kies….

Verskillende lengtes sluiers:

Om die bespreking te vergemaklik gebruik ons prente wat die verskillende rok vorme uitbeeld, asook die verskillende vorme sluiers wat mens kry:

KORT BIRDCAGE/BLUSHER STYL:

Hierdie veelsydige, kort styl wat basies net jou gesig bedek is perfek vir ‘n vintage-styl trourok, of ‘n trourok korter as enkel lengte – hoe korter die rok hoe korter die sluier. Maar dit kan by enige lengte trourok pas, solank dit by die rok se styl pas. Hierdie sluier is ook ‘n prettige manier om bietjie persoonlikheid of retro-flair aan ‘n baie eenvoudige trourok te gee. Met hierdie styl is die opsies eindeloos.

Die groot voordeel van hierdie styl is dit is glad nie in die pad nie en kan met gemak die hele aand aangehou word.

SKOUER TOT ELMBOOG LENGTE

Hierdie (asook vingerpunt lengte) is ‘n baie populêre keuse (dankie Kate Middleton) omdat dit nie te veel in die pad is nie, en ook nie te veel van die rok se mooi detail wegsteek nie.

Meeste sluier lengtes kom in enkel of dubellaag (double-tier veil). Die dubbellaag sluiers het ‘n laag wat die gesig bedek – wat jy dan terug kan vou (soos in die foto wat volg). Dis meer tradisioneel, maar is glad nie meer ‘n moet nie. Wanneer jy hom terug vou in ‘n dubbellaag, skep dit meer volume – so hou dit ingedagte as baie volume aan die bo-kant van jou uitrusting nie vir jou ideaal is nie.

Sluiers en trourokke se goue reël is dat jy egalige lyne wil hê, en dus nie skielike onderbrekings in die natuurlike vloei van die rok wil veroorsaak nie. Die ideaal is dus dat die sluier eindig waar daar ‘n natuurlike kurwe in die rok is – soos in die bruid hier bo waar die sluier eindig waar die rok haar middel beklemtoon. Dit beklemtoon haar middel daarom nog meer. Die sluier kan natuurlik ook gebruik word om volume – en kurwes – te help skep waar daar nie genoeg na jou sin is nie.

Die rok-styl waarby skouer tot elmboog lengte sluiers goed werk is enige rok korter as enkel-hoogte, en ‘n balrok of ‘n A-lyn silhoeët aan ‘n langer bruid. Rokke waarby hierdie korter styl nie goed werk nie is Trompet, Meermin of Kolom/reguit-af styl rokke.

Met elmboog lengte style en korter stel die kenners voor jy dra nie ‘n tè groot tiara of blink kopstuk nie (hoewel Kate Middleton met ‘n tiara weggekom het) – veral as jou sluier ook baie detail het. Die rede hiervoor is dat te veel detail in die boonste helfte van jou uitrusting die algehele voorkoms ongebalanseerd laat lyk. Die uitsondering is indien jou rok en jou sluier albei baie min detail het.

Hierdie styl sluiers wat tot elmboog lengte hang kan ‘n baie kort bruid van voor af visueel halveer en selfs korter laat lyk – so as jy dit wil vermy – gaan eerder vir ‘n vloerlengte sluier of ‘n birdcage styl – afhangende van jou rok keuse natuurlik.

VINGERPUNT TOT WALTZ LENGTE:

Enige sluiers langer as elmboog-lengte maar nog nie vloerlengte nie, val in hierdie tussen-in kategorie.

Hierdie styl in baie deursigtige materiaal is ideaal vir rokke met ‘n besonderse rug-detail wat jy nie wil wegsteek nie. Dis die perfekte kompromie-sluier vir enige-een wat graag ‘n lang sluier wil hê, maar nie lus is vir vloerlengte en die moeite wat daarmee saamgaan nie. Dit werk ook goed vir ‘n bruid indien die gevoel van haar troudag baie formeel is en ‘n korter sluier te informeel voel – maar sy wil ook nie ‘n baie lang sluier dra nie.

Dra hierdie sluier met ‘n geruste hart saam met ‘n trompet, meermin of ‘n kolom/reguit-af silhoeët rok.Dit is die perfekte styl vir ‘n baie maer bruid en enige bruid wat ‘n reguit-af/kolom styl rok dra omdat dit ‘n tikkie ‘drama’ en kurwes by die rok las sonder om die rok te oorweldig. Vir nog meer kurwes kan jy ‘n sluier kies wat meer as een laag het wat uitvloei en daardie ‘ruffles‘ gevoel skep wat uitklok.

Vermy hierdie styl sluier saam met balrokke, A-lyn rokke en natuurlik korter rokke – of enige rok waar jou middel die fokuspunt is. Daar is wel uitsonderings tot hierdie reël (soos in die A-lyn rok in die foto hierbo gesien) – dit hang alles af van waar die kurwe in die rok sit en hoe die rok en sluier saam vloei. Die beste manier om te sien watter sluier vir jou liggaam en rok gaan werk is om een van elke lengte by jou rok aan te pas. Kyk dan of die mooiste deel van die rok steeds beklemtoon is, of effens weggesteek of oorweldig word.

Hierdie lengte sluiers, en nog langer sluiers, pas mooi by baie dramatiese kopstukke, want dit is ver genoeg van die gesig af dat die uitrusting nie ongebalanseerd lyk nie.

KAPEL & CATHEDRAL LENGTE:

Enige ‘Glam‘ troufoto het hierdie styl sluiers – en beslis ook wanneer Hollywood royalty met  haar regte prins trou (a.k.a. Meghan Markle). Dit is baie tradisioneel en maak vir ongelooflike mooi troufoto’s – jy moet maar self besluit of die foto’s en die skoonheid daarvan vir jou die bietjie ekstra moeite werd is. Met hierdie styl stel ons voor jy kies ‘n sluier wat jy maklik kan uithaal voor die onthaal, sodat jy makliker kan beweeg en dans.

Kapel styl sluiers (vloerlengte met ‘n nie tè lang trein nie) werk mooi by Trompet, Meermin, Balrokke en A-lyn rokke, maar kan eintlik by enige vloer-lengte rok werk. Jy kan hierdie rok ook dra saam met Kolom/reguit-af rokke – maar omdat die vorm van die rok so eenvoudig is, kies ‘n sluier wat net-net vloerlengte is en nie te veel volume het wat die rok oorweldig nie. .

Katedraal (Cathedral) styl sluiers werk ook by meeste rok-silhoeëtte. Met ‘n baie eenvoudige, reguit-af snit rok wil jy oor die algemeen hierdie styl sluier vermy omdat dit ‘n te oorweldigende styl vir die eenvoudige snit is, maar dit hang natuurlik af van rok-na-rok en wat jy verkies.  Meghan Markle het, nes haar skoonsus, die sluier-reëls gebreek en suksesvol daarmee weggekom.

Jou gesigvorm…

Sò kan jy jou gesigvorm met die regte sluier vlei:

RONDE GESIG:

Om die illusie van ‘n langer gesig te skep kan jy ‘n sluier kies wat nie te breed rondom die gesig sit nie, maar eerder reguit af langs die kante van die gesig hang om die gesig lengte te gee. Vermy sluiers en haarstyle wat te veel volume rondom die kop skep wat die gesig nog breër laat lyk.

OVAAL & DIAMANT GESIGVORM:

Die ovaal en effense skerper diamant gesigvorms is baie simmetries- en enige sluier sal dus goed lyk. Om jou mooi simmetriese gesigs-kenmerke uit te lig kan jy vir ‘n cropped birdcage styl gaan wat jou gesig beklemtoon – moenie ‘n haarstyl kies of sluier kies wat jou natuurlike gesigsvorm te veel wegsteek en die mooi balans wat jou gesig het versteur nie.

LANG GESIG (OBLONG):

‘n Lang gesig, ook ‘n oblong gesig genoem- soos Liv Tyler – kan baie dieselfde vorm as Ovaal of diamant-gesigvorme hê, maar die gesig is effens langer. Om die lengte uit te balanseer met breedte gaan vir ‘n sluier of haarstyl wat bietjie volume gee of lae het wat die gesig bietjie breër laat voorkom. Dit kan ook bereik word met ‘n kopstuk of blom-kroon oor die voorkop wat lekker breed is.

REGHOEKIGE GESIG:

Reghoekige gesigte is effens langer as die ovaal gesigte met ‘n meer gedefinieërde ken en kakebeen. Om die mooi simmetrie van jou gesig te laat uitstaan kan jy ‘n sluier met lekker baie volume, of een met ‘n paar lae probeer. As jy nie hou van die skerp lyne van jou gesig nie kan jy dit versag met sagte krulle.

VIERKANTIGE GESIG:

Hierdie gesigvorm is baie dieselfde as die reghoekige gesigvorm – net met minder lengte. Jy kan die skerper punte van jou gesig versag met lang, sagte krulle of net ‘n paar los stringe hare wat om die gesig hang en ‘n langer een-laag sluier wat nie skerp punte rondom jou gesig skep nie. Jou mooi gesigvorm kan ook goed beklemtoon word in ‘n birdcage styl sluier. Vermy ‘n  haarstyl of sluier wat jou gesig te breed laat voorkom.

HARTVORMIG OF OMGEKEERDE DRIEHOEK VORM:

Hierdie gesigvorme word gekenmerk deur ‘n nouer ken, sonder enige skerp punte of lyne en is breër by die oë en voorkop. Om die kaak bietjie definisie te gee en die voorkop kleiner te help vertoon kan jy ‘n skouer-lengte sluier wat verskeie lae het probeer om volume rondom die ken te skep, of probeer ‘n chignon-haarstyl (foto hieronder).

‘n Vingerpunt-lengte sluier sal ook goed pas by diè gesigvorm. Vermy iets soos ‘n kopstuk of sluier wat baie volume skep by die voorkop en die balans van jou gesig gaan versteur – plaas die sluier en haarstukke laag af agter op die kop. Kontoer grimering kan jou kaak ook bietjie meer definisie gee en voorkop kleiner help vertoon.

Detail, kleur en afwerking:

Sluiers kom nie net in verskeie lengtes nie, maar ook verskillende patrone, afwerkings en natuurlik met details wat by die groot verskeidenheid rokke pas wat mens kry. Die detail van jou sluier hoef nie noodwendig 100% dieselfde te wees as jou rok nie, maar dit moet goed daarby pas en die kleure moet dieselfde wees, sodat dit tog lyk asof hulle saam gemaak is. Veral verskillende skakerings van wit gaan nie goed lyk bymekaar nie.

Hou altyd die balans van jou uitrusting ingedagte. ‘n Rok met baie detail (veral bo-lyf) kan dalk deur ‘n baie dramatiese sluier wat ook baie detail het, of baie volume skep oorskadu word – so hou jou rok se detail of eenvoud ingedagte asook watter deel van jou rok beklemtoon moet word wanneer jy jou sluier kies.

MANTILLA (KANT) AFWERKING:

Mantilla sluiers het ‘n kant afwerking. Dit pas mooi by ‘n rok wat ook kant details het, maar dit MOET baie dieselfde patroon kant wees, of dit gee ‘n baie eenvoudige rok bietjie meer detail. Hierdie styl sluier wat die kante van die gesig raam kan help om ‘n ronde gesig bietjie lengte te gee.

LINT AFWERKING:

‘n Dik of dun lint om die kante van die sluier maak die sluier ‘n mooi fokuspunt, sonder om te veel detail by die uitrusting te voeg. Dit pas baie mooi by ‘n satyn rok of rokke met satyn details.

BLINK/KRISTAL DETAIL OF AFWERKING:

Blink details op ‘n sluier gaan ‘n baie eenvoudige rok dadelik op-jazz. As jou rok reeds blink details het kan jy steeds bypassende blink details in jou sluier hê. Wat jy wel ingedagte wil hou is die algemene styl en gevoel van jou troudag. As dit relatief informeel is gaan jy dalk bietjie over-the-top voel. Maar by ‘n baie formele troue mag dit dalk nie so voel nie.

HORSEHAIR VOERING:

Horsehair is ‘n soort net wat bietjie struktuur aan materiaal gee, en goed werk met sluiers wat meer as een laag is sodat die verskillende lae mooi uitklok na die kante. Dit werk goed by rokke wat ook verskeie lae het wat uitklok met die tipe horsehair voering:

Hoe wil jy dit in jou hare plaas…

Afhangende van jou gesigvorm, haarstyl, rok en ander bykomstighede is daar ook verskeie metodes beskikbaar om die sluier aan te sit. Jy kan kies tussen ‘n tiara, kam, kopband, knip, of klein hairpins. Dit hang af van dinge soos of jy hom wil kan uithaal (letterlik letting your hair down) of heel aand aanhou, en of jy dit eenvoudig wil hou ef meer klem lê op die bokant van jou gesig.

Jy kan ook ‘n sluier kies wat nie vasgemaak word nie en net saggies oor of om die gesig hang. Jou tiara of kupstuk kan ook onder of bo-oor die sluier geplaas word.

Moenie bang wees om uniek te wees en iets nuuts te probeer nie….

Op die ou end van die dag is daar soveel riglyne en raad wat jou kan help ‘n keuse maak, maar as jy jou hart op ‘n sluier verloor het kan jy dit maak werk. Moet ook nie bang wees om met unieke kleure en teksture te speel en werklik jou stempel op jou uitrusting af te druk nie.

Teken gerus in op ons blog om nie die volgende artikel in hierdie bruid-bykomstighede reeks mis te loop nie.

Lekker beplan bruidjies!

xoxo

 

This Post Has One Comment

Comments are closed.

Back To Top