skip to Main Content

Koop of DIY? Waar kan ek kostes sny en waar moet ek NIE?

Koop Of DIY? Waar Kan Ek Kostes Sny En Waar Moet Ek NIE?

To buy or to DIY – that is the question… dis ‘n vraag wat ons vandag gaan antwoord. Enige bruid wat op ‘n begroting troue beplan, het al gewonder – waar kan ons koste sny en steeds ‘n stylvolle troue hou? Wat is die moeite werd om ons geld op uit te gee, en wat gaan ek net na die tyd besef was ‘n mors van geld? Dit kom neer op ‘n keuse tussen die twee waardevolste bates wat ‘n bruid het … haar geld en tyd. Jy benodig een of die ander – of ‘n goeie kombinasie.

DIY is ‘n prettige manier van geld spaar en eerder tyd insit, die troue persoonlik hou en in sommige elemente van die troue is dit ‘n wonderlike idee. Ander aspekte van jou troue is wel beter in die hande van die kenners!

Hou deurentyd ingedagte wat jou en jou man, asook jul familie en gevolg se sterkpunte is. Party is goed met houtwerk, ander is weer baie kreatief, ander is glad nie – maar is ‘n goeie bakster of naaldwerker. As jy bv strooimeisie rokke of jou eie rok kan maak – go for it! Identifiseer waar daardie sterkpunte lê en gebruik dit om te DIY – en daar waar julle swak is – betaal liewer iemand.

Spandeer jou TYD, spaar jou geld en DIY…

Jy hoef nie jouself kunstig te ag om DIY te kan doen nie. Al wat dit verg is ‘n bietjie inspirasie, goeie beplanning, tyd en geduld en al die hulp wat jy kan inspan. Kreatiewe strooimeisies se beurt om te shine! Baie elemente is glad nie noodsaaklik nie (dink bv programme) en daar is soveel troues wat groot bedrae daarop spandeer wat elders aangewend kon word (mind you – ‘n bruid kan sekerlik maak NET wat sy wil). In so geval is dit beter om dit te DIY en eenvoudig te hou, of dit heeltemal te los. Spandeer eerder geld op die groot goed.

Lees hier oor nog trou-details wat NIE noodsaaklik is nie.

Die lekker ding van ons moderne samelewing en tegnologie is – soveel kreatiewe mense is bereid om hul idees te deel op Pinterest en ander sosiale media bronne – dat jy nie alles hoef uit te dink as jy nie kan nie. Soek na hartelus op Pinterest tot jy iets sien wat maklik uitvoerbaar is. Of jy kan selfs jou troue sien as ‘n goeie geleentheid om ‘n nuwe vaardigheid aan te leer.

Hier is elemente wat jy kan DIY om sakke vol geld te spaar, terwyl jy steeds jou troue stylvol hou…

1. Skryfbehoeftes:

Skryfbehoeftes verwys na soveel dinge – plekname, spyskaarte, uitnodigings en save-the-dates, dankie-kaartjies, programme, en soveel meer.

Afhangende van jou styl, smaak (en dalk jou skill-level) kan jy (of jou helpers) uitnodigings en programme op die rekenaar ontwerp en print, of ‘n gratis webwerf platform soos Wix of WordPress gebruik en ‘n elektroniese uitnodiging maak. By die China Mall kan mens die mooiste papier aankoop wat reeds perfek is en jy moet net daarop print.

Jy kan plekname en dankie kaartjies met die hand skryf, calligraphy leer doen – of as dit nie jou vibe is nie kan julle dit verf of print. Vind jou inspirasie en wees vreeslik kreatief as jy kan en wil – of hou dit baie eenvoudig. Skryfbehoeftes is een ding wat nie ‘n TE groot hap uit jou begroting behoort te neem nie – daar is baie beter dinge om geld op te spandeer vir jou troue!

Lees ons blog post vir riglyne oor hoeveel om op wat te spandeer. Lees ook ons blog post oor unieke dekor vir ‘n bietjie DIY-skryfbehoefte inspirasie.

2. Dekor elemente…

Linne, Kershouers, botteltjies, en allerhande kreatiewe items:

Die huur van tafel dekor raak so vinnig duur – dink byvoorbeeld aan kers-houers en geometriese vorms. Jy betaal R20 – R50 huur vir een, en jy benodig ‘n groot klomp. Met bietjie kreatiwiteit kan jy so maklik ou botteltjies of goedkoop items mooi maak en die tafel dekor gaan baie meer persoonlik voel.

Mnr. en Mev. letters of julle voorletters op jul tafels, enige items wat van die dak af of in bome hang of enige ander kreatiewe dekor elemente wat ‘n plaas se prys kos om te huur of koop, kan self gedoen word. Linne kan natuurlik maklik gemaak word deur goedkoop materiaal aan te koop en tafeldoeke, servette ens self te maak.

Tafel name of nommers kan ook self gemaak word. Julle kan hout letters of getalle maak en verf, goedkoop getalle koop en net versier of iets uniek doen soos tafel nommers/name in fotorame ensovoorts. Lees meer hier oor unieke trou-dekor wat nie jou sak breek nie.

Blomme en greenery…

Hier is waar bloemiste hul groot geld maak so as jy dit self wil doen sal dit jou baie spaar. As jy die plan eenvoudig hou en unieke elemente inwerk kan dit Pinterest-waardig wees en gaan soveel meer persoonlik voel. Selfs op Youtube as jy intik ‘DIY Wedding‘ kry mens soveel inspirerende idees met stap-vir-stap instruksies. Onthou net die volgende as jy blomme DIY:

  • Alles wat die dag voor die tyd gedoen kan word – doen dit. Die res moet iemand anders doen – jy kan nie op jou troudag self dekor doen nie so span maar familie en vriende in.
  • Beplan, beplan, beplan. In soveel detail as moontlik. Hierdie item moet 30 grade Noord-Oos kyk (dit maak nie eintlik sin nie maar jy verstaan my punt?) Jou instruksies moet baie gedetailleerd wees sodat wie ook al dit vir jou uitvoer presies weet wat om te doen. Merk items en teken vir hulle ‘n kaart – wat ook al jy moet doen om te verseker dat alles PRESIES lyk soos dit moet.
  • Maak seker dat iemand kreatief en betroubaar ‘n oog oor die hele proses hou en kontrole doen.
  • Beplan genoeg tyd! Dit vat iemand onervare met tafel dekor baie lank om een tafel te doen – maal dit dan met 8-10 tafels.
  • Doen ‘n oefenlopie en neem foto’s sodat dit makliker is om na te maak.
  • Onthou as jy self dekor doen om ook iemand te reël om alles betyds (volgens venue reëls) weer van die tafels te verwyder.

Om te voorkom dat jou blomme en dekor ‘all over the place’ is – kies ‘n kleurskema en/of tema en doen al jou DIY dekor binne die perke van die tema om te verseker dat alles mooi uiteenlopend is en bymekaar pas.

Lees ons blog post oor hoe om die perfekte kleurskema te kies, en idees vir unieke trou-tema’s vir verdere inspirasie.

3. Signage:

Spyskaart, welkom-bord, tafelplasingbord en enige unieke signage. Om hierdie item te laat maak of koop is veral duur omdat dit spesiaal gemaak moet word vir elke unieke troue – hier kan jy verseker kreatiwiteit inspan en sakke vol geld spaar om elders aan te wend. Indien jy dit wil aanpak, ons het ‘n blog post gedoen oor hoe om maklik signage vir jou troue te maak.

4. Confetti & mandjies:

Weereens ‘n maklike, en kreatiewe manier om jou persoonlikheid uit te lig en geld te spaar… Onthou net om by die venue seker te maak wat word toegelaat – en mandjies vir julle blommemeisies is ook baie belangrik!

5. Photobooth:

‘n Polaroid kamera en mooi dekor in ‘n hoek – voila jy het ‘n photobooth. Photobooth foto’s is maklik om te neem so iemand wat ‘n goeie kamera het en weet hoe sal dit ook vir jou kan doen. Om veilig te wees stel ons voor jy doen dit in die daglig, in die nag benodig jy professionele beligting.

6. Gasteboek & Koevert boks:

Daar is absoluut geen reëls oor wat mag en mag nie ‘n gasteboek en koevert boks wees nie. Enige iets waarop gaste kan skryf, en hul kaartjies ingooi en jy het dit! Onthou op die ou end is dit eintlik net jy en jou man wat na die troue hierna gaan kyk so maak dit iets wat julle sal waardeer. Ons sal laat die foto’s hier die praatwerk doen:

7. Aflewering en setup & breakdown fooie van huur-items:

Hier is iets wat die manne kan hanteer. Aflewering en setup & breakdown fooie van dekor en huur-items is gewoonlik verskriklik duur. As julle tyd en moeite hier wil doen is dit ook ‘n maklike manier om ekstra kontant oor te hou vir ander dinge…

8. Vervoer:

Enige iemand wat ‘n mooi kar het en betroubare bestuurder is? Is die persoon dalk lus om die bruidspaar ‘n guns te doen? Dan is vervoer gereel!

9. Ringboks / Kussing:

Nes jou gasteboek is daar geen perke hier nie. Indien jou troue ‘n tema het (soos ‘n Bybelse tema) kan jy ‘n Bybel of iets simboliek daarvoor gebruik – lees hier vir meer Bybelse tema idees – of hou dit baie eenvoudig. Dis ‘n mooi item om af te neem – maar is nie ‘n kritieke element nie. As jy iemand in die familie het met sterk houtwerk vaardighede is dit nou hier waar hulle handig is. Nog ‘n kreatiewe manier om die ringdraer te help sy taak geniet is om die boks by sy uitrusting te laat pas. Gepraat van die ringdraer – sy en die blommemeisies se uitrustings kan ook DIY gedoen word as julle iemand oulik het wat naaldwerk kan doen.

10. Dankie-geskenkies:

Dankie geskenkies kan deel vorm jul kreatiewe tafel dekor of dit kan net ‘n eenvoudige manier wees van dankie sê. Weereens -nes gasteboeke- is daar geen perke op dankie-geskenkies nie, julle kan maak, bak of koop net wat julle wil om die tema verder uit te beeld. Dankie geskenkies word baie maal agtergelaat op die tafels na die troue – so moenie te veel van julle geld hierop uitgee tensy dit vir jou baie belangrik is nie.

Hier is die dinge waarvoor jy eerder moet betaal:

Noudat jy jou hande vol het met DIY projekte – hier is die trou-elemente waarop ons voorstel jy eerder geld uitgee en dit professioneel laat doen…

1. Fotografie & Videografie:

My troufoto’s en video is die kosbaarste besittings, naas my man, wat ek oorgehou het na die troue, ek is nie ‘n dag spyt ons het besluit om bietjie meer daarop te spandeer nie! Swak troufoto’s is een van die top dinge waaroor bruide spyt is na die troue. Lees meer oor hoekom ‘n goeie fotograaf so belangrik is in hierdie blog post. As jy voorstelle vir goeie en bekostigbare diensverskaffers benodig – kontak ons gerus!

Foto: Anandi Photography 

2. Grimering & Hare:
Tensy jy ‘n vriend of familielid het wat ‘n haarstilis of grimeer-kunstenaar is en werklik weet wat hulle doen – gaan eerder vir iemand wat jy betaal het om topgehalte werk te lewer. Hierdie is die gesig waarin jy gaan vaskyk in elke liewe troufoto so maak seker jou grimering word gedoen deur iemand wat dit laat goed lyk en dit heeldag laat hou! Indien jy wel ‘n vriend of familielid gebruik – lees hier ons top tip vir friendors (friend +vendors).

3. Ruikers en Boutonnieres

Om strooimeisie ruikers of ‘n dankie-sê ruikers self te maak is eintlik so maklik, maar dis nie so ‘n groot manier van geld spaar nie. Die feit is, bloemiste maak nie hul groot geld op ruikers en boutonnieres nie – so jy kan hier jouself moeite spaar – veral siende dat hierdie baie kort voor die troue gedoen moet word. Geen bruid het kort voor die troue te veel verantwoordelikhede nodig nie. Laat die kenners dit vir jou doen, ‘n goed gemaakte ruiker word ‘n groot fokuspunt of troufoto’s en is nie so duur met inagneming van al die moeite en duur blomme wat daarin gaan nie – dis ‘n kuns!

4. Musiek & Klanksisteem:

Baie paartjies doen self musiek – en kom daarmee weg. Maar wat gewoonlik gebeur is daar is een of ander probleem êrens met mense wat nie die predikant kan hoor nie, die musiek kan hoor nie, dis te hard of die musiek wat speel pas net glad nie by die atmosfeer nie. ‘n Goeie DJ is nie so belaglik duur nie, en ‘n DJ wat die mense en die dansvloer goed lees en weet wanneer om van sokkie musiek na rustiger musiek of los dans musiek oor te skakel -maak of breek die atmosfeer. Spaar op ander dinge – en betaal ‘n goeie DJ – dis die moeite werd!

Indien jy vertroue in iemand het om self die musiek te doen – maak seker julle het ‘n behoorlike klanksisteem vir die diens, die toesprake en die musiek.

5. Kos:

Ons het op baie plekke genoem dat sekere elemente net nie essensieël is nie. Kos is verseker! Gaste wat lekker kuier, eet en dans gaan gelukkig huis toe, ongeag hoe die dekor gelyk het of watter tipe gasteboek julle gehad het. Spandeer ekstra geld hier – dis verseker die moeite werd!

6. Dienste soos sekuriteit, kelners, kroegpersoneel ens:

As jou gaste moet lank wag, of as die troue ongeorganiseerd is, is dit ‘n resep vir disaster. Buiten ‘n oulike MC wat ‘n moet is, betaal die venue se kelners, kroegpersoneel, skoonmakers, sekuriteit en ‘n koördineerder. Dit sal jou gerus laat voel dat enige iets wat skeefloop in die regte hande is. Om familie die plig te gee om kos uit te moet pak of te bedien en skoon te maak kan gedoen word, maar dit sal mooi deurdink moet word. Jy wil tog hê sodra die troue begin dat al jou vriende en familie kan ontspan en saam kuier. En jy wil ook nie hê gaste moet lank wag vir drankies of kos nie.

Kan DIY of Koop:

Troukoek

Hier hang dit totaal en al af van jou smaak en styl. Indien jy ‘n baie moeilike, groot, tradisionele troukoek wil hê – koop eerder. Indien jy, soos baie bruide deesdae, weg wil beweeg van tradisie en iets unieks doen – by all means doen dit dan self. As iemand in jou familie bereid is om dit te doen, en in staat is daartoe – is dit beslis ‘n goeie manier van geld spaar.

Daar is soveel aspekte en detail aan ‘n troue waaraan mens moet dink. Sodra jy jou begroting vasgestel het, en bepaal het waar julle sterk en swakpunte lê kan jy maklik bepaal waar om te DIY en waar om te koop!

Maar moenie te veel hare kloof daaroor nie – solank gaste eet tot hul mae vol is, en hul voete gaar dans sal hul tevrede huis toe gaan!

Happy Planning!

xoxo

Back To Top