skip to Main Content

Romantiese Suid-Afrikaanse Wittebrood bestemmings – HAZYVIEW

Romantiese Suid-Afrikaanse Wittebrood Bestemmings – HAZYVIEW
Post Series: Honeymoon bestemmings in Suid Afrika

Of julle nou die avontuurlistige buitelug tipe, strandblommetjie of die wynproe en kuier langs die kaggelvuur tipe vakansieganger is (dalk al die bogenoemde) – daar is ‘n Suid-Afrikaanse wittebrood bestemming met jou (nuwe) naam daarop! Suid Afrika het soveel om te bied – spaar op ‘n vlugkaartjie en verken die beeldskone land van ons verder. Spandeer al julle tyd by een bestemming of roadtrip van plek-tot-plek, of julle ‘n klein begroting het of geld het wat jeuk om spandeer te word – ‘n lekker wittebrood sal jy hê…

Ons gaan hierdie afdeling van die blog vul met wonderlike wittebrood bestemmings, met al die insider info sodat julle die beste van jul wittebrood kan maak! Ons eerste bestemming is Hazyview..

Hazyview – is soos die destydse advertensie van die Hotel 224 op Jakaranda – dis ‘n ware landmerk naby aan alles, met talle verblyf opsies. Jy hoef nie eksklusief die Kruger wildtuin en wildritte te geniet nie (hoewel jy kan) – daar is ook ander plekke om te gaan waar jy die mooiste landmerke te sien kan kry en allerhande avonture kan aanpak.

Waar is dit en wat maak die area uniek?

Hazyview is in die Mmpumalanga provinsie. Dit is omtrent 18 minute se ry van die Kruger wildtuin (Phabeni hek). Die dorpie is reg langs die Sabie rivier geleë naby toeriste aantreklikhede soos Graskop, die Blyde rivier Canyon met pragtige watervalle, God’s window en dorpies soos Pelgrimsrus. Hazyview is dwarsdeur die jaar lekker warm, so pak verseker jou swemklere in. Dis die ideale winter vakansieplek om die winter te ontsnap.

Waar om te bly…

n Besparings-nota: Onthou as jy op ‘n klein begroting wittebrood is die blyplek gewoonlik ‘n groot uitgawe waar jy kan geld spaar – bespaar deur plekkies te bespreek wat minder bekend is en dus nie hul pryse aanpas vir die buitelanders wat in dollars betaal nie. Kyk op ‘n webwerf soos lekkeslaap, en maak seker jy lees resensies van vorige besoekers. Bespreek ook lank vooruit – en dis natuurlik ook voordelig as julle wittebrood hou buite-seisoen.

Omdat Hazyview nie in die Kuger wildtuin self is nie – beperk jy jouself nie tot een gebied nie – maar bespreek ‘n nag of twee in die Kruger Wildtuin self of dalk omliggende privaat lodges as jy die volle bosveld-belewenis wil hê.  Verder is daar talle opsies langs die Sabie rivier en in die bosveld wat verskeie aktiwiteite bied, privaat is en elke smaak en sak pas.

Iets uniek…

As ‘n blyplek al op ‘The Bachelor’ verskyn het dan weet jy dit is romanties! Bly in ‘n boomhuis in die Kruger wildtuin (In die privaat lodge Lion Sands). Die tinyeleti-treehouse is die toppunt van romanties in die bosveld en jy en manlief sal van voor af verlief wees – wat is beter as ‘n piekniek onder die sterre saam met jou nuwe man?

Dinge om te doen…

Die Wildtuin…

Jy kan nagritte, voldag ritte of oggend-ritte in die

Kruger doen, of julle eie voertuig gebruik en self die wildtuin verken. Ons stel voor julle ry vroeg sodat julle die hele dag het, en besoek die wildtuin minstens twee keer vir die volle dag – ry een dag Onder Sabie om en een dag Satara om. Dit gee julle die beste kans om die volle groot 5 te sien indien julle slegs dagbesoeke doen.

Nog diere en water aktiwiteite in Hazyview…

Daar is verskeie aktiwiteite in die onmiddelike omgewing- van interaksie met olifante,  water aktiwiteite soos white water rafting in die sabie rivier of iets romanties soos ‘n lugballon-rit.

Graskop…

Wees gereed om van die mooiste natuurskoon in ons land te bewonder. Dis ideaal om dit op ‘n dag te doen wat nie te bewolk of mistig is nie sodat julle die meeste uit die ondervinding kan kry. Nie net sal jy mooi dinge sien nie, maar jy kan ook weereens jul adrenalien-verslawing voed met die ‘Big Swing’ wat basies ‘n bungee jump is… daarna kan julle jul liggame voed by Harrie’s Pancakes met die heerlikste wafels of pannekoek – soet of sout.

Graskop se webwerf stel die volgende voor vir die beste ervaring en foto’s:

Besoek die area’s Suid van Graskop soos die Mac mac, Sabie en verskeie ander watervalle die oggend asook plekkies soos Pelgrims rus. Hierdie dorpie is ‘n moet vir enige geskiedenis liefhebbers.

Eindig dan die middag met plekke soos Pinnacle rock, Gods window (die mooiste uitsig oor die hele laeveld, ‘n gedeelte van die Kruger en tot Mosambiek) en Burke’s Luck Potholes (die begin van die Blyde Rivier Canyon) en dan natuurlik die Blyde Rivier Canyon wat die pragtige sig van die Drie rondawels insluit.

Stop dan natuurlik in Graskop vir pannekoek en die byna 70m bungy  of die 135m hoë ‘foefie-slide’.


Of julle nou besluit om heeldag te lê en ontspan in luuksheid, of heeldag die omgewing verken en nuwe avonturiers word – die Hazyview omgewing kan die perfekte wittebrood bestemming of ‘n stop langs die pad wees….

 

Happy Honeymooning!

EB

xoxo

 

Back To Top