skip to Main Content

Huweliksvoorwaardekontrakte – hoe werk dit, wie doen dit en wat kos dit?

Huweliksvoorwaardekontrakte – Hoe Werk Dit, Wie Doen Dit En Wat Kos Dit?
Die huweliksvoorwaarde-kontrak is basies die ooreenkoms tussen jou en jou verloofde wat bepaal hoe julle bates en laste bestuur word tydens die huwelik onder mekaar en tussen julle en derde partye, en ook hoe die boedels verdeel word in geval van dood of egskeiding. Daar kan natuurlik ander voorwaardes ook gestipuleer word – meer daaroor later. Moet nog nie aan die slaap raak nie – bear with me! Dis soos die reddingsbootjies op ‘n skip wat jy hoop nooit gebruik word nie, maar jy maak dood seker hulle is daar.
 
Die kontrak is iets wat verbasend baie paartjies op die nippertjie doen en dan net vining afhandel, en min paartjies doen hul testament voor die huwelik gesluit word. Indien die ondenkbare gebeur en een van julle sterf voordat julle kans gekry het om ‘n vergete kontrak of testament reg te stel kan dit ernstige nagevolge hê. Dis baie belangrik dat julle albei die implikasies van elke opsie verstaan en dan die keuse maak wat die beste is vir julle – saam asook individueel.
 
Op die punt om ‘n huwelik te betree, met soveel vreugde, liefde en hoop is testamente, egskeiding en dispute oor bates die laaste ding waaraan mens wil dink – maar dis ook ‘n goeie toets om te sien hoe goed julle kan kommunikeer en belangrike (en soms moeilike) besluite saam neem. Vir hierdie een gesprek wat julle moet hê moet julle worst-case scenario dink en daarop voorberei – daarna kan julle die res van julle huwelik spandeer om die scenario’s te vermy.
 
Daar is 3 maniere om die huweliks-bates te verdeel afhangende van of julle binne gemeenskap van goedere of buite gemeenskap van goedere (met of sonder aanwas-bedeling) trou. Ek sal al 3 opsies verduidelik, die voor-en nadele van elk bespreek, die koste daaraan verbonde en hoe jy te werk moet gaan om so kontrak te bewerkstellig voor julle voor die kansel staan.
 
1. Binne gemeenskap van goedere:
As jy binne gemeenskap van goedere wil trou is die goeie nuus – jy hoef glad nie ‘n kontrak te laat opstel nie. Alle huwelike wat sonder ‘n huweliksvoorwaarde-kontrak gesluit word is outomaties binne gemeenskap van goedere – jy benodig dus glad nie ‘n prokureur nie. Baie paartjies wat hierdie opsie kies doen dit as gevolg van hul geloofsoortuigings – dis al hoe minder populêr in die moderne samelewing waar mense beheer wil hê oor hul eie finansies.
 
So wat beteken dit? Twee word nou een volgens wet – wel, minstens as dit by bates en laste kom. Sodra julle trou word al julle bates en laste bymekaar gesit en julle het nou een gesamentlike boedel. Dis nie die tipe huwelik waar jy ‘n skelm kredietkaart sal kan wegsteek nie… ‘n swak krediet rekord affekteer julle albei! Albei het gesamentlike aanspreeklikheid oor alle skuld wat aangegaan word en enige iets wat aangekoop word behoort aan die gesamentlike boedel. Indien een van julle skuld wil maak om ‘n kar of huis te koop benodig jy albei partye se toestemming.
 
Die nadele van binne gemeenskap van goedere trou is: skuldeisers is geregtig om die skuld van enige van die partye van die gesamentlike boedel te eis – dis veral ‘n risiko indien een van julle ‘n besigheid besit – want die skuld van die besigheid word dan die skuld van julle albei en dit kan tot bankrotskap van julle albei lei in ekstreem gevalle. Julle is saam in die ding – as een insolvent is – is julle albei. Die ander nadeel is – indien een van die twee partye sterf sonder ‘n testament sukkel die oorlewende eggenoot soms om toegang tot sy/haar geld te hê omdat die boedel eers uitgesorteer moet word. Die ander groot nadeel van binne gemeenskap van goedere trou is – in geval van egskeiding lei dit soms tot baie onregverdige verdeling van die bates, en lang uitgerekte egskeidings-dispute.
 
Indien julle wel besluit om so te trou is dit uiters belangrik dat julle wel ‘n testament opstel waarin julle in geval van sterfte jul helfte van die boedel aan mekaar agterlaat indien julle sou wou, om te voorkom dat jy of jou eggenoot dalk helfte van jul bates moet afstaan aan familie – weereens – worst case scenario.
 
2. Buite gemeenskap van goedere met aanwas-bedeling:
So binne gemeenskap van goedere klink nie vir julle na die regte opsie nie – en julle benodig dus ‘n huweliksvoorwaardekontrak om buite gemeenskap van goedere te trou. Hier het jy weereens twee opsies – met of sonder aanwas.
 
Buite gemeenskap van goedere beteken elkeen behou steeds hul aparte bates en laste, en die vryheid om te maak daarmee wat hulle wil. Indien een insolvent verklaar word, word die ander eggenoot nie insolvent verklaar nie en sy/haar bates is beskerm teen krediteurs (onderhewig aan terme in Artikel 21 van die Insolvensiewet).
 
Alle huwelike wat in hul kontrak stipuleer dat hul buite gemeenskap van goedere wil trou – is outomaties met aanwas-bedeling – tensy die kontrak spesifiek aanwas uitsluit. Wat met aanwas-bedeling bedoel word is dat elke eggenoot die bates en laste behou wat hulle voor die huwelik opgebou het, en elkeen behou die vryheid om hul eie finansies en bates te bestuur– maar hulle deel in alles wat albei ingebring het (die aanwas) vanaf die datum van die huwelik in geval van egskeiding of dood. Hierdie opsie is voordelig by egskeidings waar een van die eggenote gewerk het en finansieël tot die huwelik bygedra het, en die ander tuis gebly het en na die huis en kinders omgesien het. Laasgenoemde eggenoot word in so geval beskerm en is geregtig tot die helfte van alles wat ingebring is deur albei in die tyd wat hulle getroud is. Dit kombineer die voordeel van binne gemeenskap van goedere trou, met die voordeel van buite want dit sluit aanspreeklikheid vir mekaar se skuld uit en jy het steeds die vryheid om jou bates self te bestuur.
 
In geval van so ‘n kontrak sal julle albei ‘n lys van jul bates en laste wat julle voor die huwelik besit moet voorsien aan die prokureur, sodat dit elkeen se individuele eindom bly en nie by die aanwas ingesluit word nie. Alternatiewelik kan julle ‘n bedrag kies wat uitgesluit word in plaas van om die bates te lys. Enige bates wat nie gelys word en uitgesluit word nie, vorm outomaties deel van die aanwas wat gedeel sal word.
 
Dit is wel moontlik om die kontrak so op te stel dat alle bates wat besit is voor die huwelik ook ingesluit word by die aanwas, maar albei partye word beskerm teen die ander party se skuld. Byvoorbeeld, as een van julle ‘n huis besit voor julle getroud is ter waarde van R1 miljoen en julle besluit die huis se aanwas word ingesluit. Indien die huis se waarde toeneem met R500 000 na R1,5 miljoen in die tyd wat julle getroud is, is albei geregtig op helfte van daardie R500 000 – maar die oorspronklike eienaar behou die oorspronklike R1miljoen en die ander is nie daarop geregtig nie.
 
Voordat ek verder verduidelik wie dit opstel en kostes daaraan verbonde sal ek eers die laaste opsie uiteensit:
 
3. Buite gemeenskap van goedere sonder aanwas-bedeling:
Dit bring ons dan by die laaste opsie – waar jou bates en laste joune bly – en syne bly syne – voor en na die huwelik. So kontrak is baie populêr indien die partye ouer is of al voorheen getroud is en kinders uit vorige huwelike het. Dit is ook ‘n goeie opsie indien julle albei ‘n besigheid (of besighede) besit en albei reeds finansieël baie welaf is. Basies het albei partye wat die opsie kies die sekerheid dat sou die huwelik eindig, hetsy as gevolg van dood of egskeiding – jy nie jou eggenoot se geld sal nodig hê om te oorleef nie – sou hy die geld in sy testament aan iemand anders namaak.
 
In geval van ‘n huwelik buite gemeenskap van goedere waar een party sterf sonder ‘n testament erf die oorlewende eggenoot steeds die volle of ‘n gedeelte van die boedel in terme van intestate reg – maar indien een van julle die volle boedel aan jou eggenoot wil agterlaat, is dit beter om dit in ‘n testament te stipuleer vir gemoedsrus.
 
Ons benodig ‘n huweliksvoorwaarde-kontrak – wat nou?
 
1. Wanneer moet dit gedoen word?
‘n Huweliksvoorwaardekontrak moet afgehandel word voor die troue sodat jy ‘n sertifikaat van die kontrak kan ontvang – wat dan aan jou offisiant moet voorsien word voor die trou-datum. Jou offisiant handig dit dan in saam met die huweliksertifikaat om te voorkom dat julle huwelik geregistreer word binne gemeenskap van goedere. Julle kan wel enige tyd gedurende die huwelik besluit om so ‘n kontrak aan te gaan en van binne gemeenskap van goedere te verander na buite – maar daar is wel meer kostes daaraan verbonde en dit is ‘n gekompliseerde proses omdat dit julle krediteure se regte verander en julle sal ‘n aansoek by die hoër hof moet indien.
 
Volgens wet moet die kontrak binne ‘n maksimum van 3 maande vandat dit geteken is geregistreer wees by die aktekantoor. Dit is dus wys om lank voor die 3 maande tydstip voor die huwelik reeds julle regsgeleerde (saam of individueel) te gaan sien en julle opsies te bespreek sodat die kontrak betyds afgehandel kan word, sowel as julle testemante. Maar solank dit voor die huwelik gedoen word en julle die sertifikaat betyds aan die offisiant voorsien sal alles in orde wees as julle dit bietjie korter voor die tyd doen.
 
2. Wie moet die kontrak opstel en wat moet dit alles bevat?
Wanneer jy ‘n huweliksvoorwaardekontrak google sal jy die basiese templaat en bewoording sien. Buiten dat jy stipuleer dat julle voorneem om buite gemeenskap van goedere te trou met of sonder die aanwasstelsel ingevolge die wet op Huweliksgoedere, kan julle ook ander voorwaardes of terme daarstel, mits dit wettig is en nie teen die goeie waardes en aard van die huwelik is nie. As gevolg van die tegniese aard van die kontrak is dit wys om ‘n notaris te gebruik om die kontrak vir julle op te stel wat die wet ken, en vir julle albei die verreikende gevolge van die kontrak kan verduidelik. Nes julle nie ‘n mik-en-druk amateur fotograaf gebruik nie, is dit nie wys om self die kontrak op te stel nie.
 
Wat is ‘n Notaris?n Notaris is ‘n prokureur, wie, nadat hy of sy die voorgeskrewe eksamens geslaag het, deur die Hooggeregshof toegelaat was as ‘n notaris. Slegs ‘n notaris het die reg om ‘n notariële akte te trek, te sertifiseer en te attesteer, soos ‘n huweliksvoorwaardekontrak.
 
Indien jy wel die kontrak self wil opstel (en ja, tegnies mag jy self) – hou ingedagte dat ‘n wettige huweliksvoorwaardekontrak geteken moet word in duplikaat deur albei partye in die teenwoordigheid van ‘n notaris en twee getuies. Die notaris moet dan die kontrak nagaan, stempel en rekord daarvan hou, en dit ook vir jou registreer by die registrateur van aktes. Hy/sy voorsien dan aan jou ‘n sertifikaat wat jy aan die offisiant moet gee om saam met die huweliksertifikaat in te handig as die huwelik registreer word.
 
Voordat jy besluit om jou eie kontrak op te stel moet jy dus weet dat jy ‘n notaris benodig wat bereid sal wees om die kontrak wat hy/sy nie self opgestel het nie vir jou na te gaan vir foute, te teken en dit dan vir jou te registreer by die registrateur van aktes. Jy gaan hom/haar dus steeds sy/haar fooie moet betaal ongeag wie die kontrak opgestel het, omdat hy/sy nie bereid sal wees om die kontrak te attester as hulle dit nie nagegaan het nie – hy/sy het ‘n verantwoordelikheid om te weet wat hy/sy teken.
 
Die ander belangrike ding om ingedagte te hou is dat notarisse sal weet watter ander stipulasies om by die kontrak in te sluit wat ekstra beskerming aan albie partye bied, buiten die standaard bewoording. ‘n Voorbeeld hiervan is dat ‘n party wat insolvent verklaar is nie tydens egskeiding onregverdig kan baat by die ander party se aanwas nie. Daar is baie tegniese stipulasies wat mens nie aan dink nie, wat hulle ken uit jare se ondervinding. Hierdie stipulasies voorkom jare-lange egskeiding sake wat net nooit end kry nie. Dit is dus baie beter om ‘n notaris te gaan sien wat dit vir julle reg kan doen.
 
3. Wat kos dit?
Die gemiddelde koste om ‘n notaris te gebruik is tussen R1000 en R1500. Dit sluit die volgende in:
– Opstel van die kontrak
– Toesien tot notarisering
– Sertifikaat vir huweliksbevestiger (offisiant)
– Registrasie by die akteskantoor
 
Daar sal wel moontlik ekstra konsultasiefooie wees indien julle apart met hom/haar wil konsulteer, of indien julle baie gekompliseerde terme in die kontrak wil sit wat tydens konsultasies in detail bespreek moet word.
 
4. Is my kontrak dan ongeldig as ek dit self opstel en dit nie genotariseer is nie?
Ja, ons wet verskil van Amerikaanse wetgewing in die verband. In Amerikaanse wetgewing is die huweliksvoorwaardekontrak geldig, al is hy nie genotariseer nie solank daar nie ‘n dispuut oor die ongeldigheid van die kontrak bestaan nie.
 
Volgens Suid-Afrikaanse wetgewing is ‘n huweliksvoorwaardekontrak wat nie aan al die wetlike vereistes en prosedures voldoen nie nie geldig vir derde partye tot die huwelik nie. Dit bring tot gevolg dat julle huwelik geag word om binne gemeenskap van goedere te wees vir enige derde party (soos krediteurs). Jy kan dus steeds insolvent verklaar word as jou eggenoot insolvent verklaar word, ten spyte van julle kontrak. Die kontrak is wel afdwingbaar teen mekaar in ‘n hof, sou julle skei, as dit kom by verdeling van bates.
 
Nie net om jouself te beskerm nie, maar ook jou eggenoot is dit nodig om hierdie moeilike gesprekke te hê en ‘n huweliksvoorwaardekontrak en testament te laat opstel wat julle gemoedsrus sal gee. Mag dit nooit nodig wees vir julle om egskeiding of die vroeë dood van ‘n eggenoot te moet beleef nie, maar berei julleself voor vir enige moontlikheid. Dit is soos om genoeg reddingsbootjies op jou skip te hê, maar bou so kliphard en goed aan die skip dat dit al hoe minder nodig sal wees om hulle ooit te gebruik…
 
Indien jy in diepte wil lees oor hoe die Wet op Huweliksgoedere werk – kan jy die volle wet hier lees; http://www.saflii.org/za/cases/ZARMC/1984/3.pdf
 
Die Ervare Bruid
X0X0
Back To Top