skip to Main Content

‘n Vierbeen eregas by die troue – doen dit so…

‘n Vierbeen Eregas By Die Troue – Doen Dit So…
Is jy en jou verloofde se liefde vir honde wat julle in die eerste plek bymekaar gebring het? Die hele familie is dan genooi, hoekom nie die honde nie? Dit is wel ‘n risiko om honde by ‘n troue te hê, nes klein kinders is hulle onvoorspelbaar…maar dis nie onmoontlik nie! Hier is ‘n paar basiese riglyne:
 
Kies ‘n hond met ‘n kalm geaardheid:
As jy moet kies tussen julle woelige 1 jaar oue woef, en die bietjie ouer, kalmer een sal laasgenoemde MOET wen. As jou hond ‘n baie woelige geaardheid het sal dit ‘n baie groter risiko wees… Hoe tree jou hond op tussen klomp mense? Luister hy/sy steeds vir jou of raak hy/sy so opgewonde dat alle gehoorsaamheid by die deur uit vlieg? Jy moet seker wees jou hond gaan nie buite homself raak van opgewondheid in ‘n vreemde plek en tussen klomp vreemde mense nie. Ouer honde is in so geval baie meer betroubaar.
 
Die ander faktor is natuurlik stres – sommige honde raak so gestres in so vreemde situasie dat hulle nie normaal reageer op instruksies nie, of dalk aggressief of bang raak. Die beste sal wees ‘n hond wat gewoond is daaraan om tussen vreemde mense op ‘n vreemde plek te wees, en dit steeds goed hanteer.
 
Opleiding…
As jy en jou man nie kan dans nie, gaan julle mos vir danslesse.. so vat jou vierbeen familielid vir die honde-weergawe van danslesse. Doen dit minstens ‘n paar maande voor die troue – alles hang af van hoe vinnig jou hond leer. Jou hond moet geleer word om in so vreemde situasie met baie stimulasie en afleidings steeds na instruksies te luister. In die lesse kan julle dan ook bepaal of woef ‘n leiband gaan benodig of nie.
 
Besoek jou veearts…
Julle sal nie die eerste of die laaste mense wees wat met so versoek by ‘n veearts kom nie. Gesels met jou veearts oor ‘n moontlike kalmeermiddel vir julle woef wat die senuwees sal help kalmeer sonder om ‘n slapende woef voor die kansel te veroorsaak. Diere verstaan nie altyd wat aangaan nie, en jy wil nie hê die situasie moet vir hom/haar onnodige stres veroorsaak nie.
 
Neem die oulikste foto’s…
Buiten die lekker van jou beste vriend daar hê (jammer strooimeisies maar julle weet dis waar!) is dit die oulike foto’s wat mense motiveer om hul diere daar te wil hê… waarsku jou fotograaf vooraf dat jy van plan is om woef daar te hê sodat hulle weet. Netnou het jy ‘n fotograaf met ‘n geheime vrees vir honde! Hulle kan ook raad gee en idees bymekaar maak vooraf sodat hulle in ‘n kort tyd genoeg oulike foto’s kan kry. Honde kan verseker nie vir ‘n uur photoshoot hou nie!
Back To Top