skip to Main Content

Geskeide ouers – hoe benader ek my troudag drama-vry?

Geskeide Ouers – Hoe Benader Ek My Troudag Drama-vry?

Hierdie is ‘n vraag waaroor daar nie gereeld op troue blogs gesels word nie, omdat dit so ‘n demper op hierdie vrolike tydperk wat troubeplanning is kan sit. Geskeide ouers kan dit vir sommige paartjies moeilik maak om hul troudag – ‘n dag van bymekaarkoms – te navigeer. Elke gesin en elke situasie verskil, maar ek het met vriendinne van geskeide ouers gesels oor hoe hulle hul troudag benader het, en wat goed gewerk het om spanning tot ‘n minimum te hou…

Die eerste, en belangrikste stukkie raad wat jou Ervare Bruide van geskeide ouers gee is – jou ouers is nie perfek nie, so ons mag hulle emosie toelaat oor ‘n gebroke verhouding. Maar dis baie belangrik dat hulle herhinner word dat die troudag nie oor hulle verhoudings gaan nie, maar oor jou en jou geliefde. Kommunikeer met hulle deurentyd oor hoe belangrik dit vir jou is dat jou troudag nie gevul is met drama nie, vertel vir hulle spesifiek hoe jy verwag hulle moet optree om dit te bewerkstellig en wees maar bietjie streng indien nodig…

Waar sit hulle en saam met wie kom hulle?
As jou ouers nog op goeie terme is, kan jy met hulle bespreek of hulle bereid sal wees om hul metgeselle by die huis te los en vir die dag bymekaar te sit by die seremonie en onthaal, as jy dit so sou wou hê. Dis nou indien jy wel die bruidstafel met julle ouers wil deel.

Indien jy bang is dis baie ongemaklik of styf, kan jy hulle ook apart laat sit by hul families en hulle dan albei ‘n metgesel toelaat, of nie een van die twee nie. Jy en jou man kan dan alleen by die bruidstafel sit – of miskien saam met julle gevolg as julle wil wegbreek van tradisie – solank julle gemaklik is en dit geniet.

Verduidelik mooi vir hulle dat jy nie wil hê hulle moet iemand bring met die doel om die ander een jaloers te maak of te verneder nie (ongelukkig gebeur dit soms so) – eerder net om ‘n vriend of vriendin te hê om die vreugde van die dag mee te deel, of as ondersteuning en hulle moet dit ingedagte hou as hulle die metgesel kies. Behou die reg voor om die metgesel goed te keur as jy bang is dit kan ‘n probleem veroorsaak.

As hulle in langtermyn verhoudings is, weeg die voordele op teenoor nadele om die persoon ‘n plek toe te laat en besluit saam met daardie ouer of dit die dag baie ongemaklik gaan maak of nie, en oorweeg ook hoe belangrik dit vir hulle is. As dit net nie gaan werk nie, maak dalk ‘n kompromie deur hulle ‘n vriend of twee ekstra toe te laat. Indien een van jou ouers weer getroud is, is dit beter om die stiefouer toe te laat om te kom, en laat die ander ouer dan toe om ‘n vriend of vriendin saam te bring.

Stel ‘n buffer aan…
Iets pro-aktiefs wat jy wel kan doen is – stel ‘n buffer aan albei kante van die familie aan – iemand wat spanning afweer en tussenbeide tree wanneer nodig om te sorg dat die twee nie mekaar (en jou) onstel nie. Iemand wat die ouer goed ken, soos ‘n oom of tannie wat jy weet jou ma/pa voor sal luister. Hierdie ‘buffer’ kan dinge weer vir jou ouers in perspektief sit as hulle sig van die groter prentjie verloor.

Bewaar die vrede…
Elke persoon se omstandighede verskil – maar as ‘n goue reël onthou dat hoe jy vandag voel oor iemand dalk nie dieselfde gaan wees as oor 5 of 10 jaar nie. Jy kan nie jou troudag oor hê nie, so tensy jou verhouding met ‘n ouer of stiefouer onherroeplik beskadig is – probeer om van jou kant af die vrede te bewaar en nie doelbewus iemand van ‘n uitnodiging te ontneem om ‘n punt te bewys nie, jy kan dalk eendag spyt wees. As die drama nie van jou kant af kom nie kan jy niks daaraan doen nie – so maak maar die beste daarvan.

Wie doen wat en betaal wat?
Kommunikeer met albei ouers oor hoeveel hulle bereid sal wees om te doen, en by te dra. Betrek hulle by aparte aspekte van die troubeplanning, of vra so nou en dan net hulle raad oor iets. ‘n Ma is oor die algemeen meer betrokke, so betrek pa by iets wat hy goed in is sodat hy ook deel voel. Sodoende voel jy ook albei jou ouers is deel van jou dag.

As hulle nie kan ooreenstem oor wie vir die troue moet help betaal nie – spaar eerder bietjie langer en betaal self, of herhinner hulle vriendelik dat dit nie oor hulle gebroke huwelik gaan nie, maar oor hulle kind en een van die grootste dae van haar lewe. Jou troubeplanning mag onder geen omstandighede ‘n geleentheid wees vir hulle om die ander ouer te spyt nie.

As jou pa bv saam jou inloop, laat jou ma saam met jou strooimeisies die dag saam julle spandeer, en kerk/kapel toe gaan voordat jou pa kom. Sodoende kry albei spesiale tyd saam jou. Of as dit jou verloofde se ouers is – laat hy die aand voor die tyd saam met een ouer kuier, en die oggend van die troue saam die ander as hulle eenvoudig nie kan bymekaar wees nie.

Hoe gee mens albei genoeg tyd deur die aand?
Jy kan dood eenvoudig nie op eierdoppe loop die hele aand en met ‘n stophorlosie sit en seker maak albei kry genoeg aandag nie. Jy is nie jou ouers se skeidsregter nie. Die aand is te veel van ‘n warrelwind om nog oor dit ook te bekommer. Laat albei ouers voel jy waardeer hulle en kommunikeer vooraf met hulle dat jy nie een bo die ander kies nie, maar dat hulle asb moet verstaan dat jy jou bes gaan doen om tyd saam met albei te bestee, maar dat dit nie altyd moontlik is om ewe veel tyd vir albei te gee nie. Doen wat natuurlik voel daardie dag, jy mag vir een aand verwag hulle moet dit so aanvaar.

Familie foto’s:
As gesins foto’s saam met albei ouers vir jou belangrik is, kommunikeer dit vooraf met jou ouers sodat hulle daarvan weet en daarop voorbereid is. Indien nie – neem aparte foto’s saam met jou ma en jou pa. Fotograwe is ervare hiermee so verduidelik die situasie vir hulle en luister na sy/haar voorstelle.

Heildronke:
Jy kan ‘n heildronk op die ouers saam laat instel wat spesifiek fokus op hul rol as jou ouers en nie oor hul huwelik nie. As dit nogsteeds vir jou ongemaklik voel kan julle kies om aparte heildronke op individuele ouers in te stel, of dan op bv. een op jou pa en stiefma, en ma en stiefpa as albei weer getroud is en julle ‘n goeie verhouding met jou stiefouers het – hulle sal die gebaar baie waardeer.

Die laaste woord…
Dis baie moeilik om mens se voet neer te sit sonder om dalk gevoelens seer te maak, veral as dit voel of jy vir volwassenes preek asof hulle kinders is. Onthou dat dit julle troudag is en julle moet ferm wees en niks toelaat wat dit kan bederf nie. As julle ‘n oom, boetie of sussie het wat julle kan help om ‘n ernstige gesprek met julle ouers te hê, of dit namens julle doen kan dit dalk bietjie die druk van julle afneem. Laat hy/sy vir julle ouers mooi verduidelik watter optrede julle verwag.

Egskeiding maak ‘n troudag moeilik, maar dit hoef nie onaangenaam te wees as dit reg hanteer word nie. Mag hierdie tydperk geseën wees, ongeag wat julle familie omstandighede is.

Die Ervare Bruid
xoxo

Back To Top