skip to Main Content

Kies die perfekte kleurskema vir jou troue…

Kies Die Perfekte Kleurskema Vir Jou Troue…

Jou strooimeisies wag tien teen een in spanning vir jou keuse van kleurskema. Dis werklik ‘n baie persoonlike keuse en hang van jou styl en persoonlikheid af. Daar is soveel verskillende skakerings van dieselfde kleur wat jy kan kies en wat pas by wat? Hier is ‘n paar dinge wat jy ingedagte moet hou wanneer jy jou kleurskema kies.

Moenie te vasgevang raak in kleur nie…

Dit is wel belangrik om ‘n kleurskema te kies sodat jou gevolg mooi bymekaar kan pas en sodat jy jou dekor kan saamstel, maar kleur is nie al faktor wat jou aandag verg nie. Dink aan dinge soos tema, tekstuur, formeel of informeel, en die algemene gevoel wat jy wil skep by jou troue. Baie keer sal hierdie dinge jou in ‘n natuurlike kleur rigting lei, in plaas van dat jy eers jou kleur kies en dan hierdie dinge vasstel. Baie keer inspireer iets kleins ‘n bruid – soos ‘n vintage element of kaal bome se takke – en die hele kleurskema en tema word daar rondom gekies.

Hier volg ‘n voorbeeld van ‘n werklike troue as illustrasie daarvan:

     

In die troue as voorbeeld sal jy sien dat daar ‘n groot verskeidenheid kleure teenwoordig is en dat – veral as dit kom by dekor en blomme, die tekstuur, tema en ‘overall’ gevoel wat dit skep ‘n baie groter rol gespeel het as om by ‘n spesifieke kleurskema te hou. Al waar die kleure werklik die ‘reëls’ gevolg het is by die dames se rokke en die mans se dasse, en tog werk dit want die estetiek van die troue pas so wonderlik mooi by die omgewing en die tema.

Onthou dus dat wanneer jy kleurskema kies – gebruik dit as riglyn maar moenie te vasgevang raak in die perke wat jou kleuskema daarstel nie.

Vind inspirasie in jou omgewing…

Die natuur is self ‘n ongelooflike kunswerk en jou venue en die omgewing waar jy trou kan ‘n groot invloed hê op jou keuse van kleurskema. In watter seisoen trou jy? Dalk ‘n strand of bosveld venue?

Hier is ‘n paar wonderlike voorbeelde van hoe die natuur kleurskemas inspireer het:

Gebruik die kleurwiel as ‘n riglyn…

Jy hoef nie ’n kunstenaar te wees om met die kleurwiel te eksperimenteer nie – as jy die basiese reels volg is dit maklik en lekker om te eksperimenteer met kleure.

Kleurwiel metode 1:

As ‘n goue reël pas kleure oorkant mekaar op die kleurwiel bymekaar, om ‘n kombinasie van koel en warm kleure te wees vir bietjie afwisseling. As jy meer as twee kleure kies kan jy byvoorbeeld twee of drie koel kleure in dieselfde groep of langs mekaar kies (bv twee of drie skakerings van blou en groen) met twee of drie kleure oorkant hulle op die kleurwiel (soos geel, oranje of rooi) vir ’n tikkie warmte by.

‘n Klassieke voorbeeld hiervan is skakerings van blou/groen met skakerings van geel en oranje:

Nog ‘n goeie voorbeeld wat mens gereeld sien is groen gekombineer met rooi of pienk:

Kleurwiel metode 2:

Kleure wat aanmekaar grens op die kleurwiel (en ‘n primêre kleur in gemeen het) werk ook altyd mooi saam as jy wil hou by slegs koel of slegs warm kleure. Jy kan ‘n troue hou met slegs blou en groen, of pienk en rooi skakerings, of selfs by een kleur bly in verskeie skakerings.

Voorbeelde hiervan:

Kleurwiel metode 3:

‘n Klassieke metode as afwisseling van metode 2 hierbo genoem is: kombineer ‘n baie intense (‘saturated’) kleur met dowwer (‘unsaturated’) kleure (Die kleure is nie so helder nie en lyk of hulle ‘n effense grys ondertoon het – dit verwys glad nie na lig of donker nie maar eerder dof en helder). Dit kan ook gedoen word met kleure wat aanmekaar grens of kleure oorkant mekaar.

Hierdie prent verduidelik mooi die verskil tussen saturated & unsaturated:

Hier is ‘n paar voorbeelde:

Kombinasie van ‘saturated’ en ‘unsaturated’ blou:

‘n Klomp ‘saturated’ kleure met een baie ‘unsaturated’ grys:

‘Saturated’ en ‘unsaturated’ skakerings van warm rooi/oranje/pienk kleure:

Die tema kan die kleure vir jou kies…

Die tema kan jou ook lei om ‘n kleurskema te kies. ‘n Wizard of Oz tema sal byvoorbeeld neig na helder kleure soos groen en rooi of geel, ‘n wêreldkaart tema sal ligte blou en groen wees en ‘n Game of Thrones tema sal natuurlik neig na kleure soos maroon en donker blou of groen. Great Gatsby temas sal kleure soos goud en swart met dalk ‘n tikkie ‘dusty pink’ inkorporeer. Jy het dus altyd die opsie om eerder ‘n tema te kies en die kleurskema sal dan vanself gebeur.

Wees getrou aan jou…

Vra jouself af – waarvan hou julle? Wat is die gevoel (of ‘mood’) wat julle wil skep? Laat julle daardeur lei en probeer natuurlik vir praktiese doeleiendes hou by die blomme/plante wat in seisoen is. As jy geen clue het wat om te doen nie – stick by ou klassieke kleurskemas wat werk en bring jou eie persoonlike twist in. Jy kan byvoorbeeld gaan vir ’n ‘plain and simple’ wit troue met ‘n paar mooi persoonlike details.

Of jy kan jou inspirasie vind in die tema, die venue, die kleurskema wat jy self geskep het of in die natuur – solank jy totaal en al getrou bly aan wie julle as paartjie is, en solank dit mooi inpas by die venue wat julle gebruik. Jy wil nie probeer die modes volg en dan oor ‘n jaar terugkyk na jou foto’s en besef die styl van die troue is glad nie ‘n refleksie van julle nie.

Soos Elle Woods in legally Blonde se ‘sorority sister’ vir haar sê: “I don’t understand why you’re completely disregarding you’re signature color…” Wees altyd getrou aan jou.

This Post Has 2 Comments

Comments are closed.

Back To Top