skip to Main Content

Lyk op jou mooiste op jou troudag – raad van ‘n dieetkundige

Lyk Op Jou Mooiste Op Jou Troudag – Raad Van ‘n Dieetkundige

As jy lees dieet advies vir jou troudag, dink mens dadelik aan raad vir vinnige gewigsverlies. Maar ‘n gesonde dieët gaan oor baie meer as ‘n getal op die skaal. Jou verloofde het jou lief nes jy nou lyk – alhoewel daar niks verkeerd daarmee is om ‘n gesonde verandering te wil aanbring nie – is dit beter om dit te doen vir meer as net ‘n vinnige 5kg verloor..

Lees verder vir nog redes om gesonde veranderinge aan te bring, en waar om te begin. Ons het bietjie met Carla Gerryts dieetkundige gesels oor die impak wat dieet kan hê op jou hare en vel – veral as jy besluit om ‘n kitsdieet te volg voor jou troue. Haar filosofie is: “When diet is wrong, medicine is of no use. When diet is correct, medicine is of no need.” – Ayurvedic proverb

Hier is Carla se raad:

Elke bruid wil graag op haar mooiste lyk op die groot dag – en voeding kan ‘n baie belangrike rol hier speel. Deur te let op jou dieet reeds ‘n paar maande voor die troue kan jou hare en vel (die fokus van die artikel) in hulle beste toestand wees wanneer jy mevrou word.

HARE…

‘n Gebalanseerde dieet saam met die geskikte produkte vir jou haartipe help om jou hare ‘n blink en gesonde voorkoms te gee. Dit is belangrik om daarop te let dat ‘n kitsdieet om gewig te verloor arm in voedingstowwe kan wees, wat weer die gesondheid van jou hare kan beinvloed.

Haargroei word beinvloed deur ‘n verskeidenheid van faktore, nie slegs dieet nie, maar genoeg zink en biotien (vitamien B7) is essensieel vir optimale groeitempo. ‘n Ystertekort kan ook bydra tot stadige haargroei, so indien jy bekommerd is oor jou ystervlakke, gesels gerus met jou dokter hoe hy of sy voel oor toetsing en die regte aanvullings vir jou. Omega 3 vetsure, proteine en vitamien B12 verleen glans aan hare. As jou dieet nie natuurlik olywe, amandels, pekaneute en salm bevat nie, is dit moontlik wys om ‘n Omega 3 aanvulling te neem.

VEL…

Weereens is dieet een van ‘n hele paar komponente wat ‘n rol speel in velgesondheid. ‘n Vraag wat die meeste gevra word is of suikers aknee vererger en of dit aknee veroorsaak. Die korrelasie tussen aknee en suikerinname is nog glad nie goed in studies bewys nie, maar om bygevoegde suikers uit te sny is ‘n goeie keuse vanuit ‘n inflammatoriese en gewigsbeheer oogpunt. Hier is Omega 3 vetsure weereens ‘n ster-nutrient. Sluit gerus ‘n avokadoporsie gereeld in jou dieet in (onthou, ¼ is ‘n porsie!)

Vitamien C, E, selenium en proteine is nutriente wat help met kollageenvorming, velelastisiteit en helderheid. Natuurlik kan ook nie oor ‘n mooi vel gesels sonder om te noem hoe belangrik genoegsame waterinname is nie – 30 ml/kg is ‘n goeie riglyn. Dit help die vel om van gifstowwe ontslae te raak sodat jy kan fokus op dit wat werklik belangrik is – jou nuwe begin saam met die man van jou drome!

Meer oor Carla…

Carla is ‘n dieëtkundige wat haar B.Sc. Dieëtkunde graad aan die NWU Potchefstroom verwerf het in 2014. Sy het haar diensjaar by die Witrand Psigiatriese hospitaal voltooi, waar sy waardevolle ondervinding opgedoen het in eetsteurnisse en die rol van voeding in geestesgesondheid.

Carla het sedertdien verdere kursusse en opleiding voltooi in CDE Advanced Diabetics, DNAlysis, geneway en Optifast. Carla se fokus is onder andere gewigsverlies, nutrigenomika, diabetes en IBS (Irritable bowel syndrome). Die lekkerste deel van die werk vir Carla is om ‘n persoonlike verhouding met haar kliënte te hê en saam met hulle elke positiwe mylpaal in die gesondheidsreis te vier.

Indien jy raad, leiding en ‘n beter ondersteuningstelsel nodig het van ‘n dieëtkundige (en ervare bruid – Carla is vroeër vanjaar getroud!) om ‘n gesonder jy te wees op jou troudag – kontak Carla gerus!

Haar webwerf: https://carlagerrytsdietitian.com/

Back To Top