skip to Main Content

Resensie: Kuthaba Bush Lodge – Nylstroom

Resensie: Kuthaba Bush Lodge – Nylstroom

Ek is self getroud, het al verskeie troues bygewoon, en ‘n paar van die mense wat saam met my werk aan hierdie blog het al self getrou en kan ook uit eerstehandse ondervinding praat. Ons wil dus bruide graag blootstel aan die beste diensverskaffers en eerlike terugvoer oor hulle gee.
Hiermee dus ons eerste diensverskaffer resensie:

Kuthaba Bush Lodge

https://www.kuthaba.co.za/

Die Ervare Bruid gee Kuthaba 9/10

Kuthaba is ‘n bosveld trou-venue in die Limpopo provinsie naby Nylstroom – sowat 90 minute se ry van Pretoria. Die venue kan tot 120 gaste akkomodeer, alhoewel dit ideaal is vir kleiner troues. Die lodge het verblyf vir tot 80 oornag gaste – en het ook ekstra kampeer plek.

Die venue bied twee opsies vir die seremonie – onder die 300-500 jaar oue vyeboom of onder ‘n dak teen ‘n krans wat oor die hele bosveld uitkyk.

As jy gelukkig is gate-crash ‘n kameelperd, blouwildebees of rooibok julle troufoto’s. Die onthaal word in die boma gehou. Hierdie boma het ‘n dansvloer en kroeg, en is die perfekte kombinasie van elegansie terwyl dit steeds die gevoel van rondom die bosveld vuur onder die sterre kuier behou. Ons coin die term, bosveld-sjiek.

Ons het die troue bygewoon as gaste en die venue het die hele naweek kliphard gewerk om ons vriende – die troupaartjie – ‘n onvergeetlike naweek te verseker. Vrydagaand het al die gaste saam gebraai en Kuthaba het gesorg vir eetgerei, en weer skoongemaak, Saterdag ontbyt vir al die gaste voorgesit, die setup, dekor en kos vir die troue gedoen, weer opgeruim en Sondag weer ontbyt vir al die oornag gaste voorgesit.

Die verblyf: Die verblyf is tipiese bosveld grasdak huisies – netjies, skoon en goed in stand gehou, maar is nie vreeslik fancy nie. Die beddens is baie gemaklik – altyd ‘n pluspunt. Pryse is billik en die verblyf is gerieflik naby aan die onthaal area. Daar is lekker swembaddens, fietsry-en staproetes en visvang geriewe. ‘n Salige wegbreek naweek vir jou gaste.

Seremonie & Onthaal areas en geriewe: Alles vind buite plaas en beide die vyeboom en die krans-opsie is ‘n entjie se ry. Die pad is baie klipperig, slegs geskik vir hoër of 4×4 voertuie en dit neem ongeveer 15 min om soontoe te ry – so dit verg wel goeie beplanning om al die gaste betyds daar te kry. Die venue bied gelukkig ook vervoer soontoe en terug. Beide seremonie opsies is pragtig en perfek vir ‘n bosveld troue. Daar is ook baie mooi plekke vir foto’s neem.

Foto: Anne Grace Photography

Die boma is vreeslik gesellig, en die venue het wel verwarmers, en die vuur bied ook lekker ekstra hitte – maar dis steeds buite so hou dit ingedagte as jy ‘n winter troue oorweeg en nie koue goed hanteer nie. Maar ‘n boer maak ‘n plan – daar is die opsie om ‘n seil oor te sit om dit toe te maak. Die kroeg, dansvloer en badkamers is baie netjies en die venue doen baie moeite daarmee.

Foto’s: Anne Grace Photography

Addisionele ekstras: Die venue doen die kos, van die dekor en blomme, en het ook hul eie opsionele foto-en videograaf en DJ wat uitstekende diens lewer (sien al die mooi foto’s in hierdie blog-post).

Kos: Die venue doen die spyseniering en doen canapès, voorgereg, hoofgereg, nagereg en troukoek. Hul styl is tradisionele boere-kos met ‘n bietjie sofistikasie. Die kos was heerlik, warm bedien en die diens was besonders goed.

Indien julle op soek is na ‘n intieme venue wat die bosveld-Afrika gevoel het, maar steeds elegant is – is hierdie die perfekte venue teen ‘n baie billike prys.

Foto’s: Anne Grace Photography

Back To Top