skip to Main Content

Trou-details wat eintlik geld en tyd mors – maar almal doen dit!

Trou-details Wat Eintlik Geld En Tyd Mors – Maar Almal Doen Dit!

Bruide wat hul eie troue beplan en voltyds werk of studeer sal verstaan hoe tydrowend dit kan wees – en daar is soveel klein details om aan te dink. Nie eens om te praat van al die uitgawes vir allerhande klein dingetjies wat jy moet aangaan nie. Die troudag gaan eintlik oor die huwelik en om dit met mense te vier wat saam met julle die pad gaan stap. Maar as bruide gaan ons oorboord (dankie pinterest) en mens verloor soms perspektief van wat werklik belangrik is. Ek was self skuldig hieraan. Ek het bietjie met bruide gesels oor dinge wat ons oor gestres het, tydrowend was of aan die begroting geskaaf het – wat na die tyd so onbelangrik was in die ‘grand scheme of things’.

1. So baie gaste…

As jy ‘n groot familie en vriendekring het sal jy hierdie struggle verstaan. Jy wil ALMAL nooi. Maar op die ou end van die dag – met wie van die mense het jy ‘n persoonlike verhouding en kontak buiten facebook? Ek verstaan 100% die druk om ‘n lekker groot partytjie te wil gooi of dat jy verplig voel om sekere mense te nooi – maar soveel van die intimiteit van die dag gaan verlore as jy dit doen.

Oplossing: Gaan sit en besin mooi voor jy daardie uitnodigings uitstuur watter van daardie mense gaan werklik julle mense wees 6 maande of ‘n jaar na die troue. Vergeet van wie gaan kwaad wees – mense wat saak maak sal verstaan, en as hulle nie verstaan nie – maak hulle werklik saak? Wie gaan julle ondersteun, en wie was aktief betrokke by julle lewens die laaste paar jaar? Daar is wel uitsonderings tot die reël, sekere mense is net ‘n MOET. Dit gaan alles oor julle persoonlikhede, en onthou ook dis ‘n mite dat klein troues nie so lekker kuier nie… Nooi net lekker mense!

2. Metgeselle…

Gepraat van jou gaste, hoe baie enkellopendes word genooi wat metgeselle kry? Ek moes al self ‘n metgesel na ‘n familie troue neem en dis awkward vir almal. Tensy jou gaste nie iemand ken nie en heeltemal socially awkward is, of in vaste verhoudings is, is metgeselle nie ‘n moet nie. Moet nooit ooit gedwing voel om metgeselle te nooi om jou gaste te please nie! Metgeselle is wel ‘n outomatiese dans-partner so dit bly maar ‘n kwessie van julle persoonlikhede en die tipe troue wat julle wil hê.

3. Stationary…

Die talentvolle mense wat hard werk aan die ontwerpe en geld maak hiermee gaan my dalk vervolg hiervoor – maar in vandag se tyd is dit werklik steeds prakties om uitnodigings te druk en uit te stuur per pos? Of selfs met die hand uit te deel aan almal? Dis so ‘n duur storie om nie eens te praat van hoe ongerieflik dit is vir meeste mense nie. Gaste verloor die kaartjie maar ‘n webwerf is altyd daar, en hoe baie mense verkies ‘n gedrukte kaart bo ‘n location op google maps? Jou oupa waardeer dit miskien nog, en dis omtrent al. ‘n Paar maande na die troue is jy nie skielik spyt jy het eerder ‘n webwerf gehad nie. Maar dit is jou keuse, en ek verstaan die aanloklikheid van mooi ontwerpte uitnodigings.

Programme – wie waardeer hulle werklik? Dis oulik en sentimenteel vir een of twee mense, maar niemand (behalwe miskien jou ma en ouma) hou dit nie – dit gaan asblik toe saam met die uitnodiging as die troue verby is. Tensy jy miskien liedjies se lirieke daarin het vir die diens. As jy dit nie het nie – mis niemand dit nie BELOWE, en as jy wil geld spaar is hierdie die eerste plek om te sny!

Dieselfde kan gesê word van individuele spyskaarte vir elke gas – so onnodig. Ek verstaan dat dit mooi lyk, en as jou begroting dit toelaat en jy het die tyd is dit ‘n ander storie.

Oplossing: As jou begroting knap is en jou tyd min – spaar jouself die moeite om groot getalle drukwerk te ontwerp en laat maak, behalwe miskien plekname. Uitnodigings kan elektronies gedoen word teen ‘n fraksie van die prys (self of professioneel) en jy kan miskien net vir die oumense wat ongemaklik is met tegnologie een laat maak (Ouma wil dit in haar Bybel bêre). Skip sommer die programme heeltemal, en sit een groot bord met die spyskaart op, of dalk een per tafel.

4. Save-the-dates…

Gepraat van uitnodigings – niemand mis yskasmagneet save-the-dates wanneer jy vir hulle ‘n eenvoudige e-pos of whatsapp prentjie stuur nie. Maklike manier om geld en moeite te spaar as jy wil.

5. Gasteboek…

WAT?? Geen gasteboek? Okay, ek verstaan die sentimentele waarde maar hear me out… Omtrent net helfte van die gaste teken die boek, en tensy jy iets cool doen wat as dekor in jou huis dien na die tyd – gaan jy oor ‘n jaar baie anders voel oor daardie boek. Lees jy steeds jou skool jaarboeke gereeld?

Oplossing: Party bruide gaan weier om saam met my te stem hier en my eie sussie is tien-teen-een een van hulle– en dis okay! As jy wel insist om een te hê, hou dit eenvoudig, jy gaan al een wees wat dit waardeer na die tyd so maak dit volgens wat jy wil hê en nie om gaste te beïndruk nie.

6. Blomme, dekor en linne…

Dekor is baie keer een van die eerste dinge waaroor bruide navorsing doen en dit is die een manier hoe jy werklik julle persoonlike stempel op die troue kan sit. Ek sê glad nie moenie dekor hê nie! Maar hierdie is veral gemik op bruide op knap begrotings… sekere dekor elemente raak bitter gou duur. Voorbeelde hiervan is tafeldoeke, servette en runners huur, spesifieke kleur underplates huur en groot ruikers (op die tafels en in die bruid/strooimeisies se hande). Gaste gee ook nie so baie om oor die dekor soos wat jy doen nie – hulle let effens daarna op ja, maar dis gou vergete as die dansvloer oop is. Wat hulle wel oplet is groot centre-pieces wat keer dat jy met die persoon oorkant jou kan gesels, of as daar skaars plek op die tafel is om hul bord neer te sit…

Oplossing: Hou by die standaard linne en underplates wat ingesluit is by die prys en druk jul stempel af met die res van die dekor. Doen DIY – ek weet bruide is bang daarvoor omdat dit nie so perfek lyk soos die proffesionele dienste s’n nie maar wie let werklik klein foutjies op? Op die honeymoon gaan julle so dankbaar wees daardie geld is eerder gespaar! Doen baie navorsing oor blomme wat in seisoen is, en as jy van een soort blom hou maar dis duur – vind uit watter soortgelyke blomme is goedkoper. Hoe vroeër jy jou dekor beplan hoe beter – dit gee tyd om alternatiewe na te vors en ook om te DIY.

Setup en breakdown van dekor is ook baie duur – dit kan jou tot R6000 uit die sak jaag! Miskien kan iemand in jou familie die setup van alles vir jou doen? As dit nie ‘n opsie is nie kan julle iemand vra om alles die dag na die troue weer af te haal van die tafels en by die diensverskaffers af te gaan laai en dalk net die breakdown fee spaar?

As ‘n goue reël vir dekor kies – vra jouself die volgende vrae: 1. Is dit absoluut die enigste manier om die tema/styl te reflekteer? 2. Kan dit enigsins goedkoper gedoen word deur bietjie veranderinge aan te bring of dit self te doen? 3. Gaan ek (en my gaste) regtig hieroor omgee (in vergelyking met bv die kos en die lekker musiek)?

7. Die gechoreografeerde dans…

Danslesse is net nog ‘n ding om oor te stres (en te betaal). Baie bruide dink dis absoluut belangrik dat julle ‘n perfekte dans lewer – maar ek het al by verskeie troues gesien hoe die gechoreografeerde danse ongemaklik en styf lyk, terwyl spontane danspassies of net ‘n eenvoudige slow-dance baie meer gemaklik lyk.

Oplossing: Tensy julle glad nie kan dans nie – skip die lesse en oefen net so een of twee keer by die huis. Vra ‘n vriend of vriendin wat goed dans om bietjie uit te help. Dit gaan oor julle as couple en die mooi spontane oomblik.

8. Dankie-geskenkies…

Die van ons wat al by baie troues was het al elke weergawe gesien vetplantjies, sjokolade, koekies, sleutelhouers ensovoorts. Het julle al opgelet hoe baie van dit bly op die tafels agter? Die gaste gee eenvoudig nie so baie daaroor om nie en jy het ook al die dag na die troue daarvan vergeet. Niemand gaan by die kroeg staan en skinder ‘hey ou, ek het nie eers ‘n dankie-geskenkie nie’…

My ma wou ‘n oorval kry toe ek sê ek oorweeg om nie hierdie te doen nie – en ek het toe op die ou end onder die druk geswyg. En raai wat? Dieselfde storie. Ons het tuisgemaakte koekies gedoen en daar was wel gaste en kinders wat die koekies wat agtergebly het gevat het – maar weereens ek dink as ek dit geskip het, sou baie min mense agtergekom het en ek sou geld gespaar het.

Oplossing: As jy ook nie lus is om te betaal hiervoor, of te stres hieroor nie – skip dit. ‘n eenvoudige dankie in jou toespraak, gratis drank en ‘n lekker ete is mos genoeg dankie? As jy hierdie moet doen – hou dit eenvoudig en moenie te veel stres daaroor nie.

9. Die troukoek…

‘n Tradisie so oud soos wit trourokke, die pragtige troukoeke. Ek self kan my net verkyk aan die mooi skeppings. Ons almal waardeer hoe mooi die koeke is, maar daar bly ALTYD so baie troukoek oor na die tyd want nie almal hou van koek nie, en daardie fondant-icing is aaklig (of is dit net ek??)! Die troue het so baie ander lekker kos dat mense eerder dit wil eet as koek.

Oplossing: Bruide gaan deesdae vir alternatiewe soos donuts, maar selfs dit kan duur raak. Krispy-Kreme is nie goedkoop nie… As jy heerlike nagereg het, met baie opsies gaan niemand eens die troukoek mis nie! Crazy times we live in…

10. Die bouquet en garter toss…

Het jy al ooit iemand hoor sê: ‘my gunsteling deel van die aand was toe al die ongetroude mense uitgesonder is vir hul ‘ongetroudheid’ (asof dit ‘n skande is) en baklei het vir die bouquet/garter asof getroud wees die hoogste prestasie is wat enige iemand kan bereik – en hul enkellopende status vir al die trougaste bekend gemaak is…?’

Ek verstaan as jy al ooit moes staan tussen die dames en die ruiker moes vang wil jy jou beurt kry om te gooi en te weet NOOIT WEER! Maar kom ons breek die siklus? En daarby spandeer bruide soms ekstra geld vir ‘n aparte ‘tossing bouquet’ omdat die pragtige ruiker te sentimenteel is. Daardie garter is ook vrek ongemaklik… ‘n Manier hoe dit jou kan geld spaar – jou fotograaf pakket kan kleiner wees want hy/sy hoef nie hiervoor te bly tot 21:00/22:00 nie…

Oplossing: As jy enigsins ongemaklik voel met die storie of net nie daaroor omgee nie – skip hierdie ook. Enkellopendes gaan jou bedank!

… So wat maak saak?

Jy is op die ou end die een wat besluit wat saak maak vir jou. En as jy al hierdie dinge wil doen – by all means doen dit. Op die ou end maak dit saak dat julle beloftes maak aan mekaar. En dis dit. As dit kom by wat gaste onthou – lekker vibe, lekker kos, lekker musiek en ‘n pragtige troupaartjie saam met wie hulle bly is…

This Post Has One Comment

Comments are closed.

Back To Top