skip to Main Content

12 Tips om ‘n kalm bruid te wees en jou troudag te geniet…

12 Tips Om ‘n Kalm Bruid Te Wees En Jou Troudag Te Geniet…

Die troubeplannings-proses en die troudag self kan vir baie bruide stresvol wees. Jy wil basies die beste partytjie van jou lewe gooi, vir ‘n groot groep mense, op ‘n begroting! Daar is SO baie dinge om aan te dink en so baie opsies… Ons het met bruide gesels oor wat hulle gehelp het om kalm te bly – tydens die beplanning asook op die troudag self.

1. Wees so lank verloof as wat jy wil!

Daar word vir so baie verloofde paartjies gesê mens MOET binne ‘n jaar van jou verlowing trou want ‘die opwinding begin afneem’. Ek weet nie wie dit besluit het nie, maar as daardie persoon bereid is om NOU al die beplanning en die betalings vir die bruide te doen, great!

Feit is: julle kan julle finansies, tydskedules en alle ander faktore in ag neem en vir twee of drie jaar troue beplan – as dit jou die beste en rustigste troudag verseker is dit wat jy doen. Die mense wat wel saak maak sal steeds opgewonde wees vir julle oor twee jaar. Doen dit een keer en doen dit reg.

2. Doen behoorlike navorsing…

As jy wil ontspan en jou troudag geniet, wil jy jou diensverskaffers kan vertrou. Doen dus behoorlike navorsing en moenie net die eerste ou kies wat op jou facebook post comment nie. Lees ons gratis aftiklysies op ons webwerf vir vrae wat jy jou venue en fotograaf kan vra, sodat jy weet jy het alles gecover.

3. Dis nooit te vroeg om te begin nie…

Sodra julle ‘n gastelys en ‘n datum het kan jy begin beplan. Behoorlike navorsing vat tyd, so hoe vroeër jy begin hoe beter. Wees daardie bruid wat haar fotograaf, DJ, Predikant en bloemiste ‘n jaar vooruit reeds gekies het. Hoekom nie?

4. Pasop vir friendors…

Friendors is wedding vendors wat ook ‘n vriend/familielid is. So verhouding kan baie stres veroorsaak want jy kan nie eerlike terugvoer gee nie, en hulle tend om minder professioneel op te tree as jy ‘n vriendin is. Dit kan baie sleg uitdraai as die persoon nie 100% toegewyd is tot jou troue nie. Maar dit kan ook baie lekker wees want hulle is nie vreemdelinge nie en dit maak die hele proses meer persoonlik.

Ons tip vir friendors is: As jy ‘n familielid of vriend het wat professioneel ‘n fotograaf, bloemis of DJ is en jy hou van hulle werk, book hulle en betaal hulle asof jy net nog ‘n kliënt is, en kry ‘n kontrak soos alle ander kliënte. As hulle vir jou afslag gee, great – maar kry steeds ‘n kontrak. Sodoende kan jy dieselfde kwaliteit diens verwag wat hulle vir al hul kliënte gee. Moet ook nie iemand kies as jy weet hulle is liggeraak en kan nie konstruktiewe kritiek goed vat nie. Dit kan baie stres veroorsaak as jy nie kan eerlik wees nie.

Nog ‘n tip is – maak ‘n lys van dienste wat julle benodig in volgorde van belangrikheid. As julle wil geld spaar en vriende en familie gebruik, begin heel onder op die lys uitdeel – die minder kritieke goed soos die programme, dankie-geskenkies of die koffie en tee.

5. Los die onnodige dinge…

Daar is so baie dinge by ‘n troue wat baie geld kos en soveel tyd en moeite vat om te maak en te beplan, en na die tyd besef jy wat ‘n mors dit was. Dankie geskenkies word op die tafels agtergelaat, mense eet nie die troukoek nie, helfte van die mense teken nie die gasteboek nie, die programme word in die asblik gegooi (sommer saam met die caligraphy uitnodigings wat maande geneem het), en hoeveel mense gee regtig om of daar ‘n garter en bouquet toss is?

Moenie laat mense jou vertel jy MOET al die tradisies volg net omdat dit tradisie is nie. Jy doen wat jy wil. Spaar jouself die geld en die energie, en fokus eerder op die dinge wat julle en die gaste wel onthou na die troue – julle as couple, die lekker kos, die musiek en die lekker kuier. So hou dit eenvoudig en spaar jouself die stres.

6. Moenie ‘n 24/7 bruid wees nie..

Maak vir jou tyd op spesifieke dae of elke tweede naweek om troue volspoed te beplan, of besluit hierdie maand gaan ek vir een of twee weke fokus op troubeplanning. Ontspan die res van die tyd en spandeer tyd saam met vriende en familie sonder om te tob oor watter kleur en grootte die kerse moet wees.

7. Deel pligte uit…

Hierdie is die belangrikste tip vir control freak bruide. Jy hoef nie alles self te doen nie, en sodra jy voel jy is oorlaai – deel uit. Familie en vriende geniet dit actually om te help en jy kan gerus voel jou troudag is vir hulle ook belangrik.

8. Vertrou jou diensverskaffers…

As jy behoorlike navorsing gedoen het hoef jy nie jou diensverskaffers te micro-manage nie. Tot die dag voor die troue kan jy nog elke detail met hulle nagaan – maar op die troudag moet jy hulle los en vertrou. Hulle weet wat hulle doen.

9. Pinterest overload…

Ons het hierdie voorheen bespreek by ons blog post oor dinge waaroor bruide spyt is na die troue, en dit kan hier herhaal, want dit het ‘n hewige impak op bruide se stresvlakke. Hou op jou idees en troue vergelyk met alles wat jy op pinterest sien, en vertrou dat jou eerste keuses van rok, kleurskema, styl en tema dit is wat julle wil hê. As die keuses gemaak is, klim van pinterest af, jy gaan jouself net mal maak.

10. Kry ‘n koördineerder…

As jou venue nie een insluit nie, kry vir jou ‘n koördineerder, of stel iemand baie georganiseerd aan om ‘n ogie te hou oor alles op die troudag en krisisse namens julle te hanteer. Moet om hemelsnaam nie die mamma’s vra nie – dis baie stresvol vir hulle – kies iemand wat nie ‘n groot rol speel nie en wat kan rustig bly onder druk. Maak hulle die kontakpersoon vir al die diensverskaffers, en hou hulle die laaste maand voor die troue op hoogte van alle finale reëlings.

11. Beplanning…

Tot die dag voor die troue toe het jy nog beheer oor wat op die troudag gebeur. As jy ‘n tydskedule vir die troue opstel en vir diensverskaffers uitstuur sal hulle presies weet hoe laat jy wil hê wat moet gebeur en sodoende kan jy kalm wees op die troudag. As jou instruksies vaag was omdat jy nie soos ’n bridezilla wou voorkom nie, moet jy vae resultate verwag.

Nog ‘n goeie tip is, as julle baie dames is wat hare en grimering doen – beplan min of meer ‘n tydskedule daarvoor. Vra vir jou glam-span span hoe lank hulle per persoon nodig het vir hare en grimering. Vind by die fotograaf uit hoe laat moet die bruid klaar gegrimeer en hare gestilleer wees, en skeduleer jouself so dat jy letterlik NET voor dit klaar is sodat alles vars lyk. Vul dan die res van die name in sodat almal weet hoe laat hulle beurt is. Stuur vir hulle die rooster en sê hulle moet sorg dat hulle betyds daar is.

Hierdie is baie control-freak agtig, maar glo my, op die troudag is jy bitter rustig want jy weet alles is mooi beplan tot die fynste detail. Diensverskaffers is gewoond daaraan om met bruide te werk, moenie worry nie…

12. Die dag van die troue….

Daai kamertjie waarin julle klaar maak is waar die stres begin as mens sit en niks doen en tyd het om te dink. Die dame wat my grimering gedoen het, het vertel haar vorige bruid het so gestres sy het haar hand stukkend gekrap met haar naels. Hier is wat ek gedoen het om my so kalm soos ‘n daggawalm te hou (sonder die middel self)!

Strooimeisies – kies die mense in jou gevolg slim. Kies die vriendinne en familielede wat jou al op jou ergste gesien het en weet hoe om jou rustig te hou. Hulle sal instinktief sien as jy bietjie tense raak en ‘n grappie maak, jou spasie gee of jou aandag aftrek – afhangende van jou persoonlikheid. Om jou mense om jou te hê maak jou kalm en moet dus nie ‘n strooimeisie kies wat jou nie goed ken nie, of wat tend om jou knoppies te druk nie.

Musiek– maak ‘n playlist vooraf. Hierdie het my SO baie gehelp rustig bly. Ek is gaande oor musiek en al wat ek gedoen het is ek het ‘n playlist gemaak vooraf van ‘n paar ure se musiek. Niks te soppy sad lovesongs nie, net vrolike, girl power vibe musiek. Kies enige musiek wat jy weet jou en jou gevolg ‘n goeie bui sal verseker. Jy kan ook ‘n strooimeisie in charge hiervan sit as sy jou musiek-smaak ken. Dis ook lekker om na die tyd weer die playlist te luister met goeie memories.

Games – Daars baie tyd wat mens sit en wag vir ander meisies se hare en grimering. So pleks van sit en niks doen – speel ‘n game soos 30 seconds, heads-up of UNO. Voor jy jou oë uitvee is dit jou beurt vir hare en grimering.

En dan last but not least – geniet dit! Dis ‘n bitter groot voorreg om te kan sê jy beplan jou troue. Sien dit so, en onthou op die ou end gaan dit oor die belofte wat julle maak. As jy aan die einde van die dag getrou het met jou verloofde, sou ek sê die dag was ‘n sukses!

This Post Has One Comment

Comments are closed.

Back To Top