skip to Main Content

Kom ons gesels oor trou-venues…

Kom Ons Gesels Oor Trou-venues…

Daar is ‘n magdom trou-venues om van te kies wat elke sak en elke karakter pas. Maar wanneer mens begin na venues kyk, kies bruide meeste van die tyd die mooiste een gebasseer op ‘n gevoel. Hulle sal vir jou sê dis net ‘n geval van jy MOET daar trou! Maar is dit altyd prakties?

Om venues se pryse te vergelyk kan voel soos om appels met yskaste te vergelyk. Hulle verskil so drasties. In die E-boek sal jy ‘n volledige bespreking met voorbeelde sien van hoe ‘n mens venues se pryse vergelyk, en die playing field level sodat jy werklik kan sien watter venues is die beste waarde vir geld. Die goedkoopste prys per kop of venue huur is nie noodwendig die goedkoopste venue nie, daar is baie vangplekke. ‘n Duur venue kan soms die beste waarde vir geld wees en in die groter prentjie goedkoper uitwerk. As mens ‘n venue oorhaastig kies, is die kanse baie goed dat jy jou begroting vreeslik gaan oorskry, en allerhande onvoorsiene kostes moet aangaan. Behalwe die feit dat jy jouself net al kan sien in die paadjie afstap daar – wat moet ‘n mens alles ingedagte hou voordat jy venue kies?

1. Die grootte van jou gevolg en die hoeveelheid gaste wat jy wil nooi:

Baie venues het maksimum of minimum getal gaste, en om meer of minder as dit by die troue te hê gaan jou prys aansienlik opstoot (of die saal het net eenvoudig nie plek vir almal nie). Hoe meer gaste jy nooi, hoe groter ook die kans dat ‘n duur venue net nie vir jou gaan werk as jy binne begroting moet bly nie. Sommige venues beperk ook jou gevolg getalle, of daar is net nie plek vir 8 of 9 dames om gelyk op een plek klaar te maak nie. Dis nie onoorkombaar nie, maar dis iets om ingedagte te hou.

2. Hoeveelheid & ouderdomme van kinders wat jy wil nooi:

Daar is wel venues wat baie kinder-vriendelik is, maar ander stel ‘n maksimum kinders wat toegelaat word, en veral as dit kom by baie klein kindertjies is dit belangrik dat die venue veilig en kinder-vriendelik is.

3. Wat die venue alles bied en wat julle alles nodig het:

Hoe meer items ingesluit is by die venue se prys, hoe duurder gaan die venue wees. Maar is dit waarde vir geld en het julle dit werklik nodig? Baie addisionele dinge is eintlik onnodig en dis hoe hulle ons vang – gratis chocolate fountains of rose-gold underplates is baie cool, maar het julle dit nodig? Spaar dit julle werklik geld? Ons het ‘n venue gaan sien wat wynbottels by hulle prys insluit, en alhoewel dit iets is wat ons nodig het en ons aanvanklik baie beindruk was, is dit baie duurder gewees as jy die sommetjies gaan maak het. Ons raad sal wees om vooraf ‘n lys te maak van al die essensiële elemente van julle troue, en vind dan die venue wat soveel as moontlik van dit bied. Dis ook okay om ‘n venue te huur wat baie min ekstras bied, as jy daardie ekstras goedkoper by ‘n ander diensverskaffer kan kry, soos eksterne huur van meubels of spyseniere.

4. Datum & seisoen van julle troue:

Sommige venues het vaste pryse dwarsdeur die jaar en ander se pryse verskil in verskillende seisoene, en is ook goedkoper op weeksdae. Dink ook daaraan dat ‘n somer troue beskutting moet hê vir reën en dalk lugversorging as die saal baie warm is, en in die winter dinge soos kaggels, ‘n bonfire of verwarmers. Ek was al by ‘n winter-troue in ‘n venue wat eintlik vir somer-troues ideaal is en danksy ‘n ontydige koue-front het al die gaste gevries.

5. Die tipe kos wat die venue maak:

Indien die venue self die spyseniering doen is dit uiters belangrik dat julle die mense wat julle gaan nooi in ag neem. Ja, die bruid en bruidegom is die eregaste, maar jy wil tog nie familie en vriende honger huis toe stuur nie. As die venue byvoorbeeld ‘n plated menu het, is die kos van so aard dat meeste van julle gaste darm dit sal eet? Voorgereg van sushi is heerlik, maar ook ‘n risiko as jy nie alternatiewe het nie. Swanger vroue en mense wat nie vis eet nie of nie van sushi hou nie gaan swaarkry.

6. Jou dekor smaak:

As jy reeds vooropgestelde idees het oor dekor, is dit ook belangrik dat die venue daarby pas. Ek het al troues gesien waar bruide baie geld mors om ‘n venue wat byvoorbeeld ‘n plaas styl het, meer volgens hul styl probeer maak deur ander tafels, stoele, en duur dekor items soos kandelare te huur. Mens kan baie geld spaar as jy slim kies en ‘n venue kies wat reeds by jou styl inpas. Sommige venues het selfs hul eie dekor wat alreeds pas by hul estetika. Die belangrikste ding is dat julle gelukkig is en die dag geniet, en dit is moontlik om jou droom dag te hê en binne begroting te bly

Back To Top